18 October 2009

Stoomtrein

Ons het vandag gaan stoomtrein ry.Daar gekom: spring ons sommer weg met middagete, want ons is ‘n hele uur vroeg!
Net klaar geëet toe ontdek die vier-manskap iets amper soos ‘n scrap-yard…
Nadat hulle vir pa geluister het dwaal hulle toe tussen die scrap rond… En sus sien toe iets wat meer na iets lyk en roep hulle toe nader vir ‘n foto.
Jy loop oor ‘n paar spore wat onderdak is, dan onder deur die ‘bordjie’ en dan onderdeur die tonnel. Op die ‘bordjie’ staan steam/stoom GERMISTON electric/elektriese DEPOT, veiligheid eerste/safety first
Die stasietjie is klein, maar oulik.
Ons kinders het elkeen ‘n kospakkie gekry (hotdog, koeldrank en tjips). Die grootmense hotdogs en koffie. Alhoewel ek ook koffie gedrink het, want ek het koud gekry.
Susan (die trein) en haar drywer.
Ons het net op en af gery, want die mense wat die treine besit mag nie op die hoof-spore ry nie.
Ons het met ons treinrit ook ‘n elektriese trein gesien…
Net voor ons uitgeklim het, toe raak ons kinders dit kwyt: “The road without pothole’s”
Die kole wat die water laat stoom en die trein aan die gang hou.
Al die meters en krane ens. Dit lyk amper soos in ‘n vliegtuig met al daai goed (inplaas van goed knoppies), maar ‘n vliegtuig het net vyf maal meer goed as die stoomtrein.
Die steenkool wat gebruik word om kole te maak. En die water? Wel, dis besig om te reën.
Die gloeiende kole word uitgegooi en dood geblus voor die trein die stoor binne ry.
Dankie, Susan en al die mense, ons het ‘n lekker dag gehad al het ons lekker nat gereën!

02 October 2009

Tarzan!

Ons is opsoek na fun… Toe kom die viermanskap op ‘n ski-tou af en gooi hom oor ‘n boomtak (redelik na aan die grond), toe spring hulle van ‘n klip af met een voet in die tou. Toe dit te laag raak skuif hulle na ‘n hoër boom en spring van ‘n oliedrom en ‘n kinderstoeltjie af. Toe kom roep hulle my, want ek mis uit en moet net voel hoe dit voel. Ek gaan toe, evens skrikkerig, maar ek spring, toe ek agterkom wat ek doen gee ek een luidkeelse skree en kry ‘n enorme smile op my gesig. DIS FUN!!! Toe ek gewoond geraak het aan die hoogte toe wil ek hoër, maar daar’s te min plek by daai boom. Toe verskuif ons weer na ‘n ander boom, ‘n hoër een. Toe gebruik ons die oliedrom en ‘’n kombuisstoel En daar het ons toe soveel fun, dat die tou nog lank sal opbly. Op die oomblik is my hande vol blase geswaai en dit pyn. Tog maak dit op vir al die fun!



Ns. Coaches, ek weet julle het ons gewaarsku, om nie ’n arm of been te breek nie. Ons het nou wel nie iets gebreek nie, net Tarzan gespeel... Maar dit kon gebeur het...

Wel dit was lekker!!!

10 September 2009

My baba is uit die huis uit!!!

Saam met die “Dankie, tog ons is by die huis” sug, het ek ook ‘n paar trane gestort…Ek het die nuus gekry dat Cindy die 4de September, saam met die verse, weg is van die kampie by die huis na ‘n kamp by vêr van die huis. Ek gaan kuier toe vir haar en op pad soontoe sê my pa dat my oom vir hom gesê het Cindy is nie meer gepla oor mense nie, toe is ek lus en ‘crack’. Wel, ons stop toe in die trop en ek roep “Cindy! Waar’s jy ma,” sy ruk haar kop op, spits haar ore en kyk rond. Toe sy my nie sien nie, gee sy moed op. Toe klim ek uit en stap praat saam na haar toe, die dom ou Hoed staan toe reg voor haar en sy sien my nie. Maar toe sy my sien is dit amper of haar oë meer blink as ooit vantevore! Ag, toe vryf en stamp ons kop, ek het ‘n spul soene gekry en sy ook!!! Eks baie lief vir haar! Geen ander dier sal my mag soen nie.Eks baie lief vir Cinds en moet nou maar ‘n “in-love” foto opsit! LOL!

09 September 2009

Terug van vakansie af.

Ons was wildtuin toe en het die hitte ordentlik ervaar! Ek meen hier praat ons van veertigs! My pa sê hy dink daar is iets fout met die kar se termometer, nadat ons 44˚C beleef het. Al wat ek sê is dankie tog, die kar het aircon. En natuurlik toe ons by die huis is, “oos wes, tuis bes.”
Wel ek kan nou nie sê ons het niks gesien nie. Ons het die groot 5, hiënas, ‘n rooikat en ‘n rooijakkals gesien, dan wat seker nou nie baie snaaks is vir die noorde nie, was ‘n eland, njalas (derduisende!), bastergemsbokke, basterhartbeeste en die normale goed.
Ek het vir my ‘n kamera gekoop en dit getoets in die wildtuin, dit was lekker! Ek is mal oor foto’s neem!

















20 August 2009

‘n Quad ongeluk…

My neef was gisteraand in quad ongeluk, hy het teen die druiwe se ankerkabel vasgery (nogal stadig ook) en die een voorwiel het gehak. Met die gespook om die wiel uit te kry maak hy die throttle oop en die quad spring en gooi hom af dat hy op ‘n volgende ankerkabel val. Hy het ses meter van die quad af gelê. Die huishulp het gehardloop en vir my tannie gaan sê, sy het die oom wat hul help op die plaas, gestuur om te gaan kyk wat gebeur het. Nou lê hy in Wilgers met twee plekke op die rugwerwel wat gebreek het, ‘n oop maermerrie en ‘n gekraakte gewrig. Hy is met die Here se genade, nie verlam nie. Al kan hy nie sy eie matriek afskeid Vrydag bywoon nie, sal hy nog steeds ‘n wonderlike lewe kan hê!!! Ek is so bly hy is nie verlam nie of erger dood nie, ek dink nie ek sal myself kan bly as hy iets ernstigs oorkom nie, want ek is BAIE lief vir hom…

13 August 2009

Ek ken 'n koei...

Een van ons verse gaan een of andertyd kalf! Ek is so opgewonde daaroor, maar wanneer kom die sogenaamde kalf? Wel, vanoggend het ek gou ‘n draai by Cindy gaan maak en gesien die vers tree snaaks op, sy lyk soos ‘n kat met ‘n opgetrekte rug. Nadat ek haar vir ongeveer vyf minute dop gehou het, let ek dat haar water gebreek het en dat sy nou-nou gaan kalf!
Toe hardloop ek na my oom en my pa toe en gee die nuus vir hulle. Hul al twee dink toe ek suig my duim, ek meen, hoe kan ‘n hoërskool MEISIE weet na watse tekens gekyk word om te sê of ‘n koei of vers gaan kalf. Wel, ek het vir hulle bewys dat ek slim is, sommer baie ook.
Toe sê my pa en oom dat ek en my spul broers haar moet dop hou (oordat baie ander verse sukkel om te kalf). En ons moet ook kyk of die kalfie vorentoe of agtertoe val, want iemand het eenkeer vir hulle gesê jy kan vêr staan en kyk en jy sal weet wat die of dit manlik of vroulik is (as die kalfie opstaan en vorentoe val is dit ‘n bulletjie en as sy op haar boud val is dit ‘n versie)en hulle wil weet of dit waar is…
Ek kry toe so ‘n skelm smile op my gesig, want dis mos simpel!
Ons staan toe en kyk hoe die kalfie gebore en skoon gelek word. Dit vat ‘n ewigheid! Toe die kalfie uiteindelik probeer opstaan val hy vorentoe en na die derde probeerslag slaag hy daarin om op sy bene te bly. Dit het net so lank gevat voordat hy die eerste keer suip… En ag ma maar dis ‘cute!’
Toe my pa en oom later terug is van hul werk iewers op die plaas, om te kom eet, wil hulle weet watter kant toe die kalf geval het, ek sê to ‘vorentoe’ en ons gaan kyk toe wat dit is (‘n bulletjie of ‘n versie). Sowaar as wragtig dis ‘n bulletjie!
Daar leer ek toe sommer nog iets!
En deel weer name uit, sy naam is Chocolate…

Dit gaan so-so met Cindy

Cindy word weggestoot en gestamp by die bale en water, maar as ek ‘n tydjie kry, gaan staan ek langs haar dat sy kan vreet of water drink. As ek haar naam roep tel sy haar kop op en spits haar ore, dan is dit amper asof sy weet nou speel ons wegkruipertjie en dan soek sy my tot sy my kry. Dit is so lekker as sy my hare sopnat lek en dit bietjie kou so asof dit die “in die mode” gras is of as sy my gesig was of met my kop stamp of my onder my boud haak as sy wil hê ek moet saam met haar stap. Dis ‘n gesukkel om van haar ‘n ordentlike foto te neem, sy kom elke keer na my toe en loop my dan amper onderste bo.
Socket is ‘n redelike moeilike kalf, al wat jy moet doen, is hom vang die tiet in sy mond sit en hom bietjie help, hy het glad nie baie krag nie maar kan darem suig.
Pienkie verlang haar dood na Cindy en sy bulk heeldag deur, maar dis darem beter as gister…