31 March 2009

Dit is alweer aanneemtyd…

Ons het vandag ‘n ‘persentjie’ gekry! ‘n Koei het in ‘n middelsplit gelê toe my pa-hulle by die beeste gekom het…

Die koei het ‘n klein kalfie (nog met ‘n naelstring), sy lê en kan nie op staan nie, sy moes iets in haar agterbene of so seer gemaak het, nou kan die kalfie nie melk drink nie! Ons gee die versie bies aanmaak melk, (dis pienk, stink bietjie, en is baie veterig) as jy haar eers gevang het en die tiet in haar mond is, suig sy, maar die vang, vashou en tiet insit is nie vir “sissies” nie.

30 March 2009

Hulle is terug

Nou is die verse terug en ons het elektriese draad gespan, om hulle binne te hou en dit werk! Maar sodra die krag af is, kan jy sien hulle wil weer spring. Maar hulle het dankie tog nog nie weer gespring nie!

16 March 2009

Ek gaan die verse skiet!!!

Ons kom van die kerk af terug en die een huishulp sê toe sy begin loop het was die verse in die sojaboontjieland, oppad na hul ma’s toe! Dit het gereën en turf is ‘n duiwel as hy nat is, jy gly, jy pak modder aan onder jou voete en alles plak aan jou vas. Ons het gery tot naby die groot trop toe begin ons loop en hardloop (want as ‘n vers mal is, is dit erg) agter die verse aan en oor die arme sonneblompies, maar die verse het ons darem by hulle MA’s in. Ons was half dood (van die spul modder wat aan jou waterbootse vasklou en swaar is) half lewendig (van die energie wat wakker gemaak is) toe moet ons nog die aangepakte modder van die disselboom afhaal en dit is rerig baie moeilik, maar toe dit af is, is dit af en ons kan hande in die krip was en huis toe kom…
Ek was vandag lus en huil my oë uit oor niks, maar ek het dit oorleef sonder om ‘n traan te stort.

14 March 2009

Beeste trek

Ons het vandag beeste met die voet getrek en dit kan nogal probleme gee as dit die dag wil!!! Ons het bulletjies wat voerkraal (van ander mense) toe moet gaan uit gekeer en dit na die voerkraal gevat (onder die bulletjies is ou Hercules, die eerste hanskalf).Vir middagete kry ons atjar (wat vrek sleg is, ek het dit vandag vir die eerste keer geproe, maar my mond raak nie maklik weer daaraan nie, die brand pla my nie rerig nie maar daai olierigheid…), witbrood en coke, en toe vir “poeding” tjips… (My oom het dit by ‘n plaaswinkel gekoop)Ons het ook ‘n bul (wat die pas kan stadig maak oordat hy kopstamp met die ander 2 bulle) en ‘n koei wat die vorige dag gekalf het uitgekeer. Die bul, die koei en die kalfie het ons toe eerste weggevat met die lorrie.Daar gekom, “skrik” ek vir die gras, dis lank, baie lank, langer as toe ek laas daar was. Ek moet toe in die hek staan sodat my oom en my boetie die drie beeste uit die lorrie kan laai en dat hulle (die beeste) in die kampie kan bly sodat die trop by hulle kan aansluit. Toe my boetie en oom die beeste uit die lorrie het, kom ou Hoed (die bul, die eerste keer toe ek hom gesien het het sy skof vir my gelyk soos ‘n breë band hoed, en van daar af is sy naam Hoed) die GROOT bul reguit na my toe gestap, ek het riling op riling gekry, maar dit tog oorleef toe my oom die lorrie “start” en hek se kant toe gery kom draai Hoed se rigting en hy gaan saam met die koei en kalf om die kampie te verken. My oom is deur die hek van die kampie, nou is dit tyd om die hek toe te maak, ek dog dis ‘n maklike taak en probeer dogter (met women power) alleen, ek kry daai hek nie met ‘n millimeter geskuif nie, want die klitsgras het hom stewig in die grond geanker!!! My oom en my boetie en ek probeer die hek skuif maar steeds niks!!! Dit kos ons ‘n stok te vat en die gras van die hek af te druk, sussie klim toe op die gras om dit platter te maak, heel bewus van die klitsgras, maar met ‘n gladde kakiebroek en leerbootse sal dit mos nie vasklou nie. Ons ruk en pluk toe weer aan die hek, en hy gee skiet, ek het toe knapse-Kêrel in my hemp en my bootse se veters is vol klitse maar nou gaan ons die trop beeste kry en trek!Toe ons by die kraal met die trop beeste kom kry ek ‘n klip en gaan sit op die (sement) dam se wal, ek gaan nou my veters skoonkrap, maak nie saak wat wie vir my sê nie, al moet ek agter hulle aan loop tot by die ander plaas loop! Uiteindelik is my veters is skoon!!!EN DIE TREK BEGIN!!!My pa, oom, boeties, en die werkers keer toe die klein kalfies uit, om hulle op die lorrie te laai, want die kalfies kan nie plus minus 15 km ver loop nie!My pa en my twee kleinboeties is in die lorrie, ek, my ander boetie en my oom ry toe in sy bakkie en die werkers, loop en dan ry hulle weer so maak hulle maar beurte, ons het as een groot man langs die lorrie gery en nou en dan moes ons ander mense se hekke toemaak, maar by ‘n T-aansluiting is daar nie hekke wat jy kan toe maak nie, en toe is een van die vrek stoute verse wat in die T aanhardloop, gelukkig is dit vinnig uit sorteer en nie lank nie toe spring twee koei oor die draad, toe jaag ek en my boetie (deur die gras op ons voete) hulle uit by die naaste hek. En “YES” ons is by die ander plaas en die kalfies moet afgelaai word toe klim ek nes ‘n bobbejaan bo-op die lorrie en hou aan die tralies (wat die beeste keer as hulle wil spring) vas en jaag die kalfies uit. Om daar te kom is makliker as om weer daar af te kom! maar ek is af en toe kan ons huis toe gaan. Maar dit was lekker!!!Een keer toe ons beeste met die voet getrek het, het ‘n BIER bottel ‘n koei se sening mors af gesny, toe moes ons die koei slag!Goed wat kan gebeur (maar wat nog nie met ons gebeur het nie): Die mense wat verbyry jaag party keer en as hy/sy teen ‘n bees vas jaag is dit tiekets met die kar, die bees en dalk die mens ook!!!

13 March 2009

As daar iets met die beeste gedoen word en ek kan dalk hand by sit, is ek daar!

Ons kom terug van die dorp af (het gimnastiek en swem gehad), en ek sien die draad is reggemaak waar ons dit geknip het met ‘n vloed - haai, wat gaan nou aan? By die werkswinkel sien ek die lorrie waarmee ons beeste trek is uit en glad nie in sig nie (jis, is daar iets aan die gang waarvan ek nie weet nie?). Ek vra my ma of ek kan gaan kyk en/of hoor wat is aan die gang, sy sê toe laai eers af en hang die swemgoed op. Toe dit klaar is, is ek ook weg (my hare is nog los en nat van die swem), na ‘n ruk kom die bakkie en die lorrie aangery, toe hoor ek hulle het gedip en verse uitgekeer, nou ry hulle die net aan… Ek kyk toe hoe hulle die verse aflaai, en gaan toe huis toe (dit is al donker gewees).