17 January 2011

Die Desember vakansie!

Ek het die vakansie voluit geboer! En dit baie geniet! Behalwe dat party mense my heeltyd aangekyk asof ek 'n paar biljoen dollar (ek praat nie nou van Zim-dollars nie) werd is!
Ek het gedis van middel November af tot so middel Desember. Nog in November, hier na die einde se kant toe het ons so 'n reënbui gehad, en kolle op die plaas was dit klam! Met die gevolg die dis pak vir 'n vale! En ek moet op alby kante van die land en party keer in die land stop om die dis skoon te maak. Dit doen jy met 'n stuk yster of as jy moeg is slaan jy daai skottels met die hamer! Die dag was ek moedeloos! Moeg vir die klein stukkie yster, moeg vir die seerkry as hy gly (en my vingers vermink), moeg vir die spul bossies en klei, en ek gryp daai hamer, as hy lewend was het hy geskree "hooo nou!" Ek slaan toe die dis dat ek voel hoe die blase begin vorm op my hand. Maar slaan slaan ek en dan is dit nog bedompig so ek is ekstra geireteerd! Na sowat drie draaie (of ses lengtes) slaan ek nog met alle mag en krag, toe vlieg die hamer se kop en val reg voor my voete, toe klap ek die skottel met die stuk hout! Dis nie lank nie of ek het die hamer weer in een stuk. Na nog 'n paar draaie besluit die kop om weer te vlieg. Toe bel ek my pa en sê "ek het nou genoeg gesukkel, ek soek nou 'n ordentlike hamer wat nie sal kopverloor nie." Die volgende dag het ek weer die selfde hamer net met 'n bietjie natter steel!
Dan was daar nog sulke klein kroonkiewiete, ek het 'n paarkeer die briek plat getrap, dan is ek in 'n hoë rat en die vet vol oop! Dit voel party keer of jy gaan vlerke kry! Ek het een aand tot na 21h00 gewerk, en daar was klein kiewiete in die land, ek het later gestop en agter hulle aangehardloop en daar gaan sit waar klaar gewerk is (want my boetie het agter my gewerk met die ripper). Ek het soos hul ma geluister om hul te hoor dat ek hulle kan optel en kan wegvat. Party keer moes ek my kop op die grond sit of rond kruip soos 'n kleintie. Die ergste was die jakkals wat nie ver van daar was nie! Want hyt geroep en geroep! Die kiewietjies se ma het my 'n paar keer gevloek tot ek hul kleintjie neersit, dan is als weer reg.
Toe het ek na 'n dag (met baie uithou vermoë) eindelik geploeg. So tussen die werkery deur was daar dae wat te nat was wat ek kon doen wat ek wil! En dan was daar dae wat dit gereën het, dan maak ek die eendraai klaar en dan wag ek langs die land tot dit opgehou het. Later as dit droog genoeg is (dat die turf nie aan die wiele klou nie) dan begin ek weer werk. Ek het eendag perongeluk die draad gehak met die dis. Maar gelukig het ek 'n goeie kondaai gehad, en was dit net eenkeer nodig om aan my twee base te verduidelik wat gebeur het.
Ek het ook die vakansie sojaboontjies geplant. Voor die tyd het my pa en oom my half bang gepraat (ek het rerig aangejaag wat die dis aanbetref, want ek hoef nie reguit en op die kontoere te bly nie), want ek kan nie reguit ry nie en ek sal nie kan draai nie, sommer 'n klomp goed! Toe die dag aanbreek dat ek gaan plant is ek opgestress! Met die inklim in die trekker, trek al wat spier is stywer as die styfste kitaarsnaar! Die volgende oomblik sê my pa net "plant!" ek skep daar asem, sit die trekker in rat en sak die planter, los die clutch, so dat almal omtrent vlieg en gee vet! Hoe vinniger ek ry hoe erger kyk ek die merker se streep aan en hoe meer klou ek aan die vet en stuurwiel! Aanderkant uit, toe is die ergste agter die blat en ek is so op met myself, laat ek skoon vergeet dat en nog moet terug ry om my draai te voltooi! So plant ek toe 'n paar lande se sojas!
Wel, as 'n man (moet ek sê vroumens?) wil plant moet hy sy eie saad kan gaan haal. Die trekker los en die bakkie vat en saad by die huis gaan haal! Dit kan nogal 'n grap afgee! As ek in die bakkie klim, is my eerste gedagte 'hoekom het die ou wat laaste gery het nie die stuurwiel opgetel nie?'. So skakel ek die cruiser aan. Dan kom dit by vorentoe ry! Die trekker waarmee ek ry is 'n 110 Case, en sy vorentoe sit (as jy nou die stuurwiel vierkantig sou maak) in die linkerkantste hoek, ek het al lank gesoek na vorentoe ry, en dan is my voet op die clutch, en as ek los gebeur daar niks! Woeps vlieg daar weer bietjie insig my brein in en sit ek die cruiser in rat! Of dit nie genoeg is nie, soek ek nog na die vet, hier langs my, aan my regterkant! Vinnig, vinnig dan snap ek maar die vet is onder sussie! Nou weer volgende rat, die trekker sin sit op die vet-hefboom en jy gaan na die volgende rat met 'n knoppie! Nou soek ek weer na die ratte hier regs, reg langs my! Hahaha, so leer jy maar weer blits vinnig jy sit in 'n bakkie en nie in die trekker nie!
My pa besig om planter skoon te maak. Na my vingers al soos blase gelyk het.
Na die vakansie het ek omtrent nog een nodig! Ek het eenkeer plat op my maag op die kombuisvloer gaan lê, want dit was vrek warm, toe raak ek daar aan die slaap en ek slaap nie rerig in die dag nie. Wel as jy moeg is, is jy moeg en dan slaap jy maar!
Dit was nou in kort my Desember-vakansie. Dit voel of ek jare laas op my blog geskryf het! Skies daarvoor, ons internet was vir LANK mors dood!
Die is vir my so allerdaags soos die son wat opkom! Ons gebruik twee ysters aan weerskante van die planter om die merkers te lig, sodat die merkers nie aan die hek kan hak nie. Aan die anderkant van die draad, sak ons die planter, sodat die merkers kan oopgaan en dan van die ysters uit.
Ek het 'n duifie ook nog tussen als groot gemaak, gelukig was hy al redelik groot toe ek hom gekry het en het ek net vir 'n week hom met die hand moes kos gee, toe begin hy self eet!