24 February 2010

Veiling

Gister is ons na die gimnastiek toe en my ma kom laai ons op en sê sy moet net gou gaan brood en vis koop vir môre, eks soos in “vir wat?” en sy sê “want jou pa het gevra ek moet kry.” Toe ons by die huis kom, kom Johan (tweede jongste) die huis in, “julle môre verkoop ons beeste. Jus, hulle het ons vandag laat hardloop, julle het gemis. Die goed is wilder as wat kan kom.” (dis die wilde trop, ons vermoed mense het jag gemaak op hulle). So hoor ons toe dat hulle vandag beeste gaan verkoop en dis natuurlik waarvoor die kos is. Nogal iets om na uit te sien. Maar dis in skool tyd!

Toe my pa instap is dit die eerste ding wat ek hom vra “Pa kan ek môre saam gaan?” hy’t my aangekyk of ek van my sinne beroof is en hy sê toe “ wel, as jy kans sien om môreoggend 4:15 op te staan is dit reg met my. Ons ry 5uur, as jy laat is bly jy.” Yes! En so kom dit laat die boeties ook vra... Dis nie wat ek wou gehad het nie, maar dis nou maar hoe dit is...

Ek stel toe my selfoon vir 4:15 net vir daai kwartier se ekstra slaap! Ek mag dit dalk net nodig kry. Toe is my ma en pa uit om te gaan onkruiddoder spuit. Ek maak toe klaar vir bed en na kwart voor elf toe besluit ek, ek gaan nou nie wag tot ma-hulle hier is nie nou maak ek my oë toe en slaap.

Jipperz toe daai wekker afgaan toe val ek amper van my bed af! En ek lê toe nog ’n rukkie en toe kom ek agter daar is nie ’n geluid in die huis nie, ek besluit toe maak maar weer jou oë toe en slaap, ma sal in any way kom kyk of ek op is. Twintig voor vyf toe kom maak my ma my wakker, toe vlieg ek uit die bed uit, gryp my klere en pluk dit in die stik nag donker aan, toe ek by my kamer uitstap (reg vir die dag) toe is my pa nog besig met Bybelstudie! Ek kry toe sommer die piesangbrood en smeer dit en haal oorskiet rooiworsies uit die yskas en sny dit en nog druiwe. Ek kry my water reg en begin inpak vir die DAG wat voorlê.

Ag, kwart oor vyf toe stap ons stoor toe en toe start my pa die trok en sluit die stoor en die hek oop, toe trek hy die trok uit en sit hom reg in die pad. Half ses toe kom my oom aangestap en toe almal uiteindelik daar is, (en my koffie al op is en ek lus vir die volgende beker) toe ry ons. By die sandplaas (die wilde trop is nou daar) gekom, ry ons met die trok voor en my oom met die cruiser agter.

Ek't so gelag want toe ons afgery kom in die pad en die beeste die trok sien toe hol hulle in drie verskillende rigtings! My pa stop toe die trok en ons (ek (oudste), Henry (tweede oudste) en Johan (tweede jongste)) klim op die cruiser. Na ’n gespook van byna ’n uur, het ons die beeste in die kraal... Gelukkig het hulle die beeste gister in ’n kleiner kamp gesit!

My oom en almal wat die beeste ken, keer toe die wilde beeste uit. Ons laai toe die eerste vrag en my oom en ’n werker ry toe (die een koei wat in daai vrag gegaan het, is mal! Sy spring sommer oor die kraal!

En toe my oom terug is eet ons gou ontbyt en toe ry ek en die broers (André, die jongste, het hom vir ons gewip oordat ons hom nie wakker gemaak het nie en toe besluit hy, hy bly by die huis) saam met my oom en gaan veiling toe! Dis die heel eerste keer dat ek op ’n veiling was! Want of eks te klein of eks ’n meisie of, of, of... Maar ek is so bly ek kon saam gaan, maar ek dink party maal ek is besig om al wilde en wilder te raak! Een van die dae verkoop hul my ook op ’n veiling. LOL! Nee, dit glo ek darem nie, hulle sal my nie maklik laat gaan nie!

Ek het dit so geniet!!! En nou het ons sommer ’n bietjie moeilikheid minder. LOL!

Besig om uit-te-keer...
En op te laai...En reg vir ry...By die veiling, nadat ons afgelaai het.

20 February 2010

Oupa se Sojas!

Wat is sojaboontjies? Dis ’n peulplant wat oorspronklik van China af kom. Vandag word dit wêreldwyd geplant. In die Ooste is dit 'n gewilde kossoort, maar elders word dit hoofsaaklik vir dierevoeding gebruik - die soja-oliekoek. Soja-olie word uit die sojabone onttrek en vir kookolie gebruik en kan ook vir biodiesel gebruik word.

My oupa plant al lankal sojabone en het 'n maatskappy wat sojasaad ontwikkel. 'n Paar jaar terug het hy sojas aan SPP voorsien en het as hy kom kuier , van hulle sojaroomys en gegeurde sojamelk saamgebring sodat ons kon proe. Dit was lekker, maar tog weird...

Nou kweek en ontwikkel hy hy soja kultivars wat vir die boere 'n hoër opbrengs kan gee. Hy het reeds al ’n sojaboon gekweek wat in sowat 4 maande reg is vir stroop - hy werk met verskillende vatiëteite en kry steeds korter groeiers en verbeterings met opbrengs.

Sojas is selfbestuiwend en om kruisbestuiwing te doen, moet die blomblare van die een plant afgehaal word en sy stuifmeeldrade verwyder word. Dan moet stuifmeel van die ander plant by die blom gebring word. Dan volg heelwat proewe, eers in die tuin en wanneer daar genoeg saad is, ook in die land totdat daar genoeg is om te kan verkoop.

Dit is met hierdie proewe in die tuin waar hierdie reus uitgepop het.

18 February 2010

Boooohooooo!!!

Hoe moet ek dit stel? Hoe moet ek dit uitdruk? Eish! Dis nogal ’n moeilike een!

Ons verloor koeie en kalwers, maar nooit ’n hoop vol nie. Die bulle word gekoop en verkoop na ’n afloop van ’n paar jaar. ’n Bul is tussen twintig- en vyftig duisend rand. En dan kan hy net “woeps” vrek... Daar’s altyd die risiko wat jy loop.

Ons het die afgelope paar weke tussen die lande beweeg en net vir die beeste gaan water pomp, dis spitstyd op die plaas want daar word geploeg en geplant. So drie weke terug het my oom begin sê dat hy nie vir Hoed (die bul) sien nie en die naweek toe bespiegel ons waar die kabouter kan wegkruip en wat met hom gebeur het. My pa sê toe veral wat jy weet net ’n hopie wurms... Ek hoor toe ’n hopie horings. Ou Hoed het ook net sulke cute klein horingtjies...

Gisteraand toe reën dit net genoeg om ons uit die lande te hou (10mm) en my pa en oom besluit toe om ’n soektog vort te sit. Ek het daarvan gehoor, maar my nie veel daaraan gesteur nie.

Met middagete stap my pa die huis in “slegte nuus” my riaksie was, “wat’s so sleg? Is Hoed dood?” Toes die andwoord “Ja, een van die werkers het op sy bene afgekom, nie ek of jou oom het al gaan kyk nie” en hulle weet ook nie wat met hom gebeur het nie...

Dit lyk dalk nie op die oog af of dit my vang nie, maar ek't ’n baie sagte plekkie vir Hoed gehad! Die rooi bul met die groot skof, wat nes ’n oudtydse hoed lyk en die groot dik kop met lang ore en klein cute horingtjies.

HoEd Ek MiS jOu Ou GrOtE!!! En jy sal altyd in my kop ’n prentjie bly, al is dit net dofweg of vaal, al is dit net skrams, jy sal altyd daar wees...

08 February 2010

Maroela...

Ons was vandag sandplaas toe. Wens ons kon weer swem, maar die dam is al weer half (want dis spitstyd op ons plaas en die pa’s kry nie tyd om te gaan waterpomp nie) en die watergras het klaar begin groei.

Ons is saam om te gaan maroelas op te tel, om maroela jellie te maak. Maar geeneen van ons is vanplan om sonder fun terug te gaan huis toe nie! Toe ons by die hek inry toe sien ons ’n skilpad! Die seuns het paaie gemaak in die pad en lekker in die sand gejol! En ek het gekyk hoe waaghalsig ek kan wees om ’n paar foto’s te neem toe ons water gestart het, ek't op my ma se senuwees gewerk! Toe ons maroelas gaan optel toe gooi ons die ou en vrot maroelas en skiet die pitte met die ketties! Die Plaaslewe is FUN!!!

Een enorme sandput!!! André, Johan en nefie...

Ek, besig om ’n goeie uitsig te soek, op die sonpanele se “stand” (die sonpanele is ’n paar jaar terug gesteel).

‘n Uitsig oor die bos...

En na die pad se kant toe.

Spinnerak.

Sonsondergang onder die maroelaboom.