Showing posts with label Beeste. Show all posts
Showing posts with label Beeste. Show all posts

09 July 2011

Aw baba!!

 Aw julle ons het die oulikste, kleinste nuwe kalfie!! Hy is so groot soos 'n skaap lammetjie!! Okay sy ma is ook nou nie een van die grootstes nie. Maar hy is te oulik!
 Hy is op en aan die gang! Hy spring soos 'n lammetjie rond en is sommer net laf!!
 Die klein rakkertjie is vreeslik wakker en bly maar altyd naby sy ma! Die ander beeste kyk hom snaaks aan. En hy gee nie om nie! So 'n regte klein mal dingetjie!
 Hy is so klein hy kan onder deur sy ma loop sonder om haar rerig te pla!!
 Na al sy manewales word meneertjie vinnig moeg en hardloop baie keer voor sy ma uit en gaan lê dan en wag tot sy weer naby is!!
 Hy is te oulik met sy groot oortjies...
En ogies!!
Hier was hy so drie dae oud. Maar steeds bitter klein!

03 July 2011

'n Woeste daggie...

Die beeste het weereens besluit die draad lyk goe genoeg om op te voeter, dit op betaal naweek met 'n snerpende koue wind, en toe kies bees se kind nog die plek met die meeste klitsgras en ek weet nie wat se soort bossie nie, al wat ek weet, daai bossie hou van in jou skoenne klim en dan byt hy die blou wilde waks uit jou uit. Soos altyd het ek my kamera by my gehad en 'n klomppie snaakse fotos te neem.
Met die foto het ek deur 'n ysterpaal se gaatjie die draadtrekker afgeneem.
Hier het ek weer die doringdraad van nader bekyk, as jy mooi kyk sien jy self die spinnekop se drade...
Hierdie is die bolwelf van die krip.
Hier geniet 'n koei en 'n klein bulletjie die lekkerte van beeswees: lek.
Die twee oulikste en nuuskierigste kalfies onder die son!
Besig om bale te laai met die imobilie, vir Cindy kind en die res van haar trop.
The power of worship...
Cindy geniet die bale op die wa...
Andre se maag na Cindy hom geskep het met haar horing en haar ma haar amper iets aangedoen het!

16 May 2011

'n Vers en 'n man se kop werk baie die selfde!

In my hele lewe, nooit sou ek my die dag kon indink! Nou is dit werklikheid! My "baba" wil nie na my toe kom nie! Ek moet erken ek was LANK terug by haar. Of maak dit 'n maand terug. Nou ewe skielik, weier sy dat ek aan haar vat. Ek mag nie eers my hand na haar uitsteek nie.Maar, slim vang sy baas! Ek het besluit, die volgende keer wat ek na haar toe gaan SAL ek pellets saamvat. So maak ek toe en vat vyf blikkies saam. Dit was 'n stryd om haar te kry om die goed te kom vat. Na 'n paar pellets op die grond en 'n paar keer se skud van die bak het sy wel gekom en haarself kom vol vreet!
Nie uit die bak uit nie maar uit ma se hand uit! Later het ek haar bietjie begin vryf. Wat 'n stryd! Ek mag net haar kop, nek en boude vryf! En ook net as sy seker is daar is pellets in my ander hand! Sy is net soos 'n man, al hoe jy by haar hart kan uitkom is deur haar maag! Anders kan jy vergeet!
Toe die pellets op was het sy 'n 'n paar keer kop gestamp en die dat ek haar dan net vryf, het haar nie aangestaan nie. Pad-vat was volgens haar toe die beste opsie en 'ma' moes toe maar omdraai en baai sê. Tog effens vererg oordat sy 'n 'manne streep' op my kom staan en trek!! Ek sal nogal nie verbaas wees as sy dragtig is nie!

01 May 2011

Eina-pyn!!

Hoe kan mense so wreed wees!? Hierdie vers is in haar horing geskiet. Die horing het later afgeval. Maar kyk net hoe lyk dit!!

28 March 2011

Uithou vermoë van 'n bulterriër!

Ek voel sommer sleg as ek na my blog kyk! Ek skeep hom regtig af!! Geluking leef ek nog want ek is aan die gang, permanent! En dis so LEKKER!! Ons "trek" al beeste vir die afgelope week! Dit klink nou onmoontlik, maar dit is rerig so!
Woensdag het ons begin en ons het vandag uit eindelik al die beeste geskuif! Woensdag toe maak ons die trop by mekaar en net toe ons dink dis almal, toe hoor ons daar is twee kalwers deur die draad en ons hoor groot beeste agter ons bulk. Ons los toe die massa en gaan haal die res. Soos 'n bees maar is loop hul weer weg! Die hele oggend spook ons met die beeste en die middag word die twee kalwers gesoek, waarvan daar toe niks gekry is nie.
Donderdag is die kalwers weer tussen ons. En ons maak die beeste nog 'n keer bymekaar. Ons maak die draad los en jaag die wat agter gebly het weer nader. Toe "begin" die trek, eers kolk die beeste so saam dat ons hul nie in die pad kry nie en toe is die beeste in die pad en soos altyd is dit weer choas!
Die volgende oomblik spring die hele trop om en hol die buurman se draad in mekaar! Skaars 'n uur daarna bel my oom en sê, hiers 'n koei in 'n strink en willer as die wildtuin self, ons paartjies gaan haar nie kan vang en los maak nie. Daar gekom maak hul haar los en toe al die manne haar los en sy haar nodige asem weer terug het, storm sy op my oom af en is so half-half oor hom.
Daar kry hul toe nog 'n nek-strik! Nie lank daarna nie is ons weg van my oom af en toe bel weer, die selfde storie. Dis toe dat ek saam loop. Maar julle dit lyk of die duiwel in hul ingevaar het, sy hol rond, pluk omtrent haar kop af met die kabel-strik om die nek. Roggel en die tong hang langs die bek uit. Dis iets verskrikliks. Toe die manne haar los vat sy die pad en ek het guts om nader te staan toe dit die volgende koei (sowat 15m verder) se beurt is. Weer vang ons die koei en knip die kabel los, dan hol sy bok-spring en gooi haar nek laat myne sommer seer word. Ons het so tien strikke los geknip, hoeveel daar nog in daai bos is wil ek eerder nie weet nie!
Toe ons eindelik die beeste sommer oor die grensdraad, weer by ons plaas in het, en die draad reg gemaak word, roep die een van die werkers my pa en oom. Ek wil toe saam loop, toe sê my pa nee bly hier. Die volgende oomblik roep my pa my "kom neem dit af!" Ek gaan toe daarnatoe en neem die gesig af! Dis aaklig!!
Die werker vertel toe: "toe die beeste omswaai en by die bos hol het ek iets gesien wat hop hier by die draad. Toe ek kom kyk ek, ek sien die wolf. Hyt gelewe, maar hy was mal!" Wel, toe ons daar kom was die bruinhiëna al dood en dis duidelkik dat hy al lank daar was! Hyt 'n sirkel van so 5m plat geploeg soos hy probeer loskom het! En drie boompies van so 5cm dik afgevreet, hy het aan klippe gebyt, want dit was vol bloed en tand merke, die gras was plat en die draad het gegaap.
Die strik was bedoel vir klein wild (vlakvarke of klein bokkies). Nog iets dis die hiëna se tweede strik! En so ook sy einde gewees! Die middag probeer ons toe weer die beeste in die pad kry maar dis nag, hul bly agter!

Vrydag het ons weer probeer, net vir oulaas! Maar tussen die beeste wat agterbly en die wat nie wil uit by die draad nie werk dit net nie! So bou ons toe krale Vrydag middag en Saterdag! En ek kyk hoe bored ek kan raak!!

Maandag maak ons toe vir oulaas die laaste paar goedjies reg en trek met die trok! Tussendeur gooi ons "poor on" op die beeste.
Dinsdag, is ons vroeg op om die die laastes en die wildstes, die skoppers en die fighters te laai!
Dis rof en onbeskof, die laaste vyf-tien beeste het ons moeg gehardloop, en hul word nie moeg nie, maar hul storm en gaan mal!
Hulle spring oor die hekke, breek hekke, hol mense om en skop hulle (so ook vir ouboet), so ook het hul probeer om oor die 1.8m hoë kraal hek te spring!
Dit was soos 'n nagmerrie in die dag!
Die laaste koei is net so wild, sy haar horings is ook gesny toe ons haar uiteindelik in die drukgang (een keer in 'n leeftyd) en ons het haar oor 'n V gegee. Sy klim eerste slagpale toe saam met haar wilde vers maatjie (volgende parragraaf), wat lankal al 'n V in die oor het!
Die heel laaste vers, let wel VERS het ons gedaan gehad, haar neus het gebloei en sy het oor als gespring, die laaste keer wat sy gespring het was oor 'n 1.5m hek en toe struikel sy en almal pak haar soos 'n sprul wildehonde, gryp die kop en pote, toe sleep ons haar drukgang toe, sy het gesorg dat elkeen iewers seerkry! Dankie tog hulle is almal nou getrek!

10 August 2010

New homies!

Ons was nou vir ’n ruk lank met ’n bietjie beeste hier in die kamp by die huis... Wel, hier is nou twee nuwe koeie. ’n Ou een met ’n kalfie en ’n kruppel een! Die ou een is rêrig oud! En die kruppel een is kruppel! Ons gee die kalfie byvoeding, want sy ma staan min op en sy het min melk! Ek kry die kleintjie jammer! En die kruppel koei het iets in haar heup seer gemaak, dit lyk skoon of haar been uit draai! Sy loop nie vêr nie en as sy loop buig sy nie haar been nie! Ek dink sy het seer! En Pienkie is weer hier, want sy het gesukkel om aan te pas by die ander... Cindy het vinnig aangepas en sy het nie maar geword nie. Dan is hier ’n ander versie wat ook nogal maar was.
Die kruppel koei.Die koei en haar kalfie.
Ek drink bietjie bottel! LOL!

10 July 2010

Adrenalien Saterdag...

Eerstens dis Saterdag en die skool maak volgende week oop, so ek slaap laat. Toe ek wakker word lê ek in my bed en lees, my ma kom toe en vertel my van die mense wat kom voëls jag het, die een ou het in die boom geklim om sy voël te kry, toe pik 'n slang hom. Toe my pa kom toe sê hy die ou het so dronk en simpel gelyk, dit het rerig gelyk of hy gepik is deur 'n giftige slang. Wel, hy skeur toe gek, en nadat almal geskok was, kom die waarheid toe uit, 'n luislang het hom toe gebyt (gepik klink nie reg vir 'n luislang nie), die baba soos hulle hom noem en dan die ma. Die ma het hom gelukkig nie gebyt nie, maar die baba het, die baba was meer as 2m lank en die ma was meer as 4m, eerder 5m en langer! Dis vrek groot! Maar nie so groot vir 'n luislang nie.
Toe my pa kom ontbyt eet (so half elf), toe kom maak hy 'n draai in my kamer en vertel my dat hulle gister baie gesukkel het om Cindy en 19 ander verse te dip. Ek vlieg toe uit my bed en in my klere, ewe skielik baie haastig, ek gaan Cindy dip en die laaste bietjie van haar trop! YES! Toe hol ek na my oom toe en vra of ek kan gaan. Ek ry toe saam met hom en toe ons daar kom, sukkel die werkers om die 20 in die kraal te kry, en een vers wil-wil kalf. Ek gaan staan toe naby aan die kraal en roep "Cindy!!" toe kom die hele troppie ingestap. My oom besluit toe om die vers wat wil kalf eerste te dip, en hulle jaag haar toe in, ek helf toe my oom en 'n werker om haar in te jaag en die ander jaag toe vir Cindy-hulle in die ander kraal in. Ons van toe die vers verby na die drukgang en toe het ons haar vinnig gedip en haar weer uitgejaag. Toe dip ons die 20, maar dis twee drukgange vol. Met die eerste een spook hulle weer om Cindy in te kry en weer roep ek haar, en weer luister sy! Ek het gedink dis 'n enorme grap, want die mans sukkel met haar en ek maak net my mond oop!
Toe ons klaar gedip het en klaar opgeruim het en wil ry toe sien ons dat die versie besig is om te kalf, in die highway hek toe! Ons moes toe 'n ompad ry hek toe, en toe ons deur die hek is, moes ek agter die stuur inklim en die medisyne huis toe vat, want my pa en oom gaan sandplaas toe. Die laaste wat ek toe sien is die voorpootjies en die koppie! Dis te cute!!!
By die huis gekom en als op hul plekke is. Staan ek en my tannie en gesels, die volgende oomblik gaan die honde tekere! Dit klink of 'n orkaan die plek getref het! Ek, nog in my gumboots, kry vlerke en hoe ek dit gedoen het weet ek nie, maar ek spring toe oor die hekkie (1.5m hoog) en voor ek grond gevat het hol ek al! Ek dink as iemand my moes sien het hulle gelê soos wat hulle lag! Toe ek sien wat gebeur het wil ek sommer skree! Want die een ou het 'n rooster by my ma kom haal, om mee te braai. Toe het hy die hekkie oopgelos en my ouma se hond het in ons werf in gekom! Toe baklei die twee tewe. My ouma se hond het bietjie baie seer gekry, maar sy sal dit wel oorleef, daai hond is van staal!
Dit was my wonderlike Saterdag oggend! Ek het nooit gedink soveel adrenalien kan deur my are vloei nie! Nie in 'n kwesie van vier uur nie!

14 June 2010

Tweeling

Soos elke Sondag middag, ry ons vandag beeste toe. Alles lyk goed maar toe ons verby die een koei ry sê my pa iets is fout. Ons stop ek en kyk. So sien ons toe dat die koei geaborteer het, eers sien ons net die een klein lyfie en toe ons uitklim die tweede... Dis die eerste keer dat ek 'n tweeling sien. Dis bitter min dat beeste tweelinge kry. Die koei was bietjie klein gebou en dan moet sy nog dragtig wees met 'n tweeling! As die koei net grooter was was daar dalk 'n beter kans op oorlewing. Ek wens die tweetjies het geleef, want ek sou hul groot gemaak het soos 'n baba, sou tot in my kamer geslaap het, maar huls geheel en al te vroeg gebore, die twee lyfies saam maak skaars een kalfie van 'n week oud!

30 March 2010

Byvoeding

Ons is toe eers omtrent vyf uur hier weg, my pa het gesê ek moet kwart voor vier reg wees dan kom laai hy my op. Maar toe kom laai die oom die nuwe bul vroeër af (ek skryf later oor daai een). Ek’t toe nog aan skok gely, my bene het soos jellie gevoel!

Toe ons daar aankom Het ons eers die enetjie gekry maar hy lyk toe of hy heel okay is. Toe sien ons die ander een, sy ma is simpel, sy los nie haar kalf nie, en die kalf hol agter haar aan, toe kom laas jaar se kalf ook daar aan en daar’s nie ‘n manier dat ons daai kalfie gevang gaan kry nie! Wel, die groot kalf het ons oë oop gemaak want die grote het al die bies op gedrink en die kleintjie het nie sy nodige teenliggaampies ingekry nie. Toe soek ons, ons byna dood, en uiteindelik kry ons toe die koei by die krip besig om water te drink en toe jaag ons haar sommer die kraal in. Toe moet ons die kalf vang! Dit was ‘n nagmerrie! Hy was naby die kraal en ek het begin bies aanmaak, toe begin hy hol, hy hol toe tot by ‘n kwaai koei wat haar kalf verloor het en toe hol hulle die ou lande in! My pa sê toe ek moet die melk aflaai en op die grond klaar aanmaak. Hulle ry toe. Na ‘n ruk se gespook ry hul al lans die koei en die kalf, Henry duik toe van die bakkie af en vang die kalf.

By die drukgang het ek toe die melk aangemaak en die koei dopgehou soos wat sy blaas en raas en sand opskop! Toe laai my pa die kalf af en ons jaag die koei die drukgang in. Toe tel ek henry en sy pel die kalfie of en spook met die bottel! Dis weer een van daai kalwers met ‘n koue bek en dit voorspel nie iets makliks nie (tensy keel afsny ‘n opsie is). Terwyl ek en die seuns met die kalfie spook, help ‘n werker my pa om die koei in die drukgang stewig vas te vang, sodat hulle haar kan melk om te sien of sy mastitis het. Ons het toe nie die ding waarmee ons die koeie se bene vastrek sodat hulle nie kan skop nie, saam gevat nie en toe vat die werker die draadtrekker en maak haar bene vas. Toe melk my pa haar, maar twee van haar spene is droog en die ander twee is VET. Toe sit ons die kalfie in die drukgang en hou die spene vir hom en sit dit in sy bek. Na ‘n ruk toe vang hy die skimp en begin self suip. Toe spring die koei los, en die een houtpaal wat ons horisontaal in die drukgang gesit het laat die koei nie kan move nie, op sy kop!! Hy hol toe agter sy ma aan en begin toe weer suip. Die maan het al hoog gesit toe ons die koei en kalf uit die drukgang lei kraal toe, vanaand slaap hulle daar! Ek dink die houtpaal op die kalf se kop het hom goed gedoen, want hy’t lank gesuip!

13 March 2010

No sensitive readers!

Julle hierdie is rêrig nie vir sensitiewe oë of ore nie! Maar laat ek begin...

Gister het ons ’n bulkalf verloor. Hy’t hom teen iets stukkend gesny en homself dood gebloei. Dit kan teen die lekdromme wees of “bees-moordenaars,” ons is nie seker wat daar gebeur het nie. My pa sê die een werker het my oom gebel en gesê “die baas moet kom!” Toe my pa en oom daar is en aan die kalf vat toes hy klaar koud, alhoewel hy nog asemhaal, terwyl hul nog daar is does die kalf dood... Hy’t homself rêrig dood gebloei! Daar was ’n plas bloed waar die kalf was. En teen die een lekdrom, dis moontlik dat een van die ander beeste hom gestamp het en toe kap hy, sy been oop! Maar dis diep! Baie ook! Die sny is deur sy vel en ’n hoof aar en die sening wat keer dat die been agtertoe buig! Kyk na die twee foto’s...















Dan jakkals probleme! Nog ’n ding waarvan ek nie hou nie! Hulle leef op jou wins en vreet jou as boer bankrot! ’n Koei in kalf is ’n baie lekker teiken. Want as die koei geboorte gee is sy nie rêrig soepel nie, sy staan swaar op ens. As ’n koei opgestaan het tydens kalwing, kan die kalf versmoor of net dood gaan van swakheid na geboorte, of hy kan beentjies breek ens. Wel, as jakkals se kind bloed ruik kom hy inspekteur, dan snuffel hy om die koei rond en maak die koei histeries (soos ek gister!), so try die koei opstaan en maak haar self in die proses seer! En jakkals spring en byt dan aan die koei. As die koei al in ’n redelike stadium van kalwing is, kan sy nie opstaan nie en dan begin die jakkalse haar van agter af vreet (lewendig!). Soos wat met hierdie koei gebeur het, ons moes haar skiet...

En as die kalfie klaar gebore is, beskerm die ma koei haar kalfie, sy steek, skop, stoot ens. na die jakkals se kant toe, in die kommosie kan sy op haar kalfie trap en dit kan sy lewe kos. Sy kan ook die jakkalse begin wegjaag reg na geboorte en dan kry kleinding nie melk nie (’n kalfie MOET in die eerste twee uur van sy lewe, sowat 2liter biesmelk suip om sy tongetjie sterk te maak en sommer sy lewensduur langer! Want ’n kalfie word sonder teenliggame teen bakterieë gebore. Die teenliggame kry hy uit die biesmelk, in die eerste twee uur na geboorte, neem sy liggaam dit goed op, maar daarna raak die opneem van teenliggame al swakker. Na ses ure neem die liggaampie die teenliggame as proteïene op en breek dit af, sodat dit nie meer as teenliggame in die bloedstroom opgeneem word nie) en word swak, dis dan dat ons die kalfie moet help sterk word om aan sy ma te suip. En baie van daai soort kalwers word hanskalfies... En gaan ook maklik dood. Want om daai tongetjie aan die gang te kry is hel!!! Dis nie ’n grap nie!

En dans klein kalfies ook mos ’n lekker teiken (dis nou te sê as die ma nie ’n baie kwaai ma is nie!). Dis klein genoeg om te jag en genoeg vleis om ’n paar jakkalse se pense vol te maak (ek wens hulle pense wil bars na elke kalfie wat hulle vreet!!!). Hier is ’n kalfie karkas, nadat die jakkalse hom op gevreet het. Die kalfie was ±2 weke en al sterk genoeg om sy gang te gaan, maar ’n aaklige rooijakkals, met sy vreeslike tande en aaklige gesig het hierdie mooi klein diertjie se lewe gekos.

24 February 2010

Veiling

Gister is ons na die gimnastiek toe en my ma kom laai ons op en sê sy moet net gou gaan brood en vis koop vir môre, eks soos in “vir wat?” en sy sê “want jou pa het gevra ek moet kry.” Toe ons by die huis kom, kom Johan (tweede jongste) die huis in, “julle môre verkoop ons beeste. Jus, hulle het ons vandag laat hardloop, julle het gemis. Die goed is wilder as wat kan kom.” (dis die wilde trop, ons vermoed mense het jag gemaak op hulle). So hoor ons toe dat hulle vandag beeste gaan verkoop en dis natuurlik waarvoor die kos is. Nogal iets om na uit te sien. Maar dis in skool tyd!

Toe my pa instap is dit die eerste ding wat ek hom vra “Pa kan ek môre saam gaan?” hy’t my aangekyk of ek van my sinne beroof is en hy sê toe “ wel, as jy kans sien om môreoggend 4:15 op te staan is dit reg met my. Ons ry 5uur, as jy laat is bly jy.” Yes! En so kom dit laat die boeties ook vra... Dis nie wat ek wou gehad het nie, maar dis nou maar hoe dit is...

Ek stel toe my selfoon vir 4:15 net vir daai kwartier se ekstra slaap! Ek mag dit dalk net nodig kry. Toe is my ma en pa uit om te gaan onkruiddoder spuit. Ek maak toe klaar vir bed en na kwart voor elf toe besluit ek, ek gaan nou nie wag tot ma-hulle hier is nie nou maak ek my oë toe en slaap.

Jipperz toe daai wekker afgaan toe val ek amper van my bed af! En ek lê toe nog ’n rukkie en toe kom ek agter daar is nie ’n geluid in die huis nie, ek besluit toe maak maar weer jou oë toe en slaap, ma sal in any way kom kyk of ek op is. Twintig voor vyf toe kom maak my ma my wakker, toe vlieg ek uit die bed uit, gryp my klere en pluk dit in die stik nag donker aan, toe ek by my kamer uitstap (reg vir die dag) toe is my pa nog besig met Bybelstudie! Ek kry toe sommer die piesangbrood en smeer dit en haal oorskiet rooiworsies uit die yskas en sny dit en nog druiwe. Ek kry my water reg en begin inpak vir die DAG wat voorlê.

Ag, kwart oor vyf toe stap ons stoor toe en toe start my pa die trok en sluit die stoor en die hek oop, toe trek hy die trok uit en sit hom reg in die pad. Half ses toe kom my oom aangestap en toe almal uiteindelik daar is, (en my koffie al op is en ek lus vir die volgende beker) toe ry ons. By die sandplaas (die wilde trop is nou daar) gekom, ry ons met die trok voor en my oom met die cruiser agter.

Ek't so gelag want toe ons afgery kom in die pad en die beeste die trok sien toe hol hulle in drie verskillende rigtings! My pa stop toe die trok en ons (ek (oudste), Henry (tweede oudste) en Johan (tweede jongste)) klim op die cruiser. Na ’n gespook van byna ’n uur, het ons die beeste in die kraal... Gelukkig het hulle die beeste gister in ’n kleiner kamp gesit!

My oom en almal wat die beeste ken, keer toe die wilde beeste uit. Ons laai toe die eerste vrag en my oom en ’n werker ry toe (die een koei wat in daai vrag gegaan het, is mal! Sy spring sommer oor die kraal!

En toe my oom terug is eet ons gou ontbyt en toe ry ek en die broers (André, die jongste, het hom vir ons gewip oordat ons hom nie wakker gemaak het nie en toe besluit hy, hy bly by die huis) saam met my oom en gaan veiling toe! Dis die heel eerste keer dat ek op ’n veiling was! Want of eks te klein of eks ’n meisie of, of, of... Maar ek is so bly ek kon saam gaan, maar ek dink party maal ek is besig om al wilde en wilder te raak! Een van die dae verkoop hul my ook op ’n veiling. LOL! Nee, dit glo ek darem nie, hulle sal my nie maklik laat gaan nie!

Ek het dit so geniet!!! En nou het ons sommer ’n bietjie moeilikheid minder. LOL!

Besig om uit-te-keer...
En op te laai...En reg vir ry...By die veiling, nadat ons afgelaai het.