15 December 2008

My susie kalfie

Ons het ‘n nuwe hanskalfie genaamd Cindy. Ek is mal oor haar, sy was die week van die 8ste Desember siek (haar maag het soos ‘n spuitfontein gespuit) maar nou gaan dit al beter, sy is so oulik en ek is mal oor haar. Hier het 2 seuns gekuier en elke keer as ek vir Cindy hoor bulk dan sal ek iets sê soos ‘Ja mamma se kind!’ of ‘Is jy honger Cindy-kind?’ of/en ’Mamma sal nou vir jou melk gee’ of so, dan terg die 2 seuns en my boeties my dan sê hulle goed soos ‘Kyk, sy lyk wragtag nie soos jy nie!’ of ‘Wanneer gaan sy ophou bulk en begin praat?’ ek kon elke keer nie my lag hou as hulle vir my vra wanneer sy gaan begin praat nie, ek sal haar baie graag sal wil sien praat.

18 November 2008

Vloed

Ons het van die 9de tot die 15de Novenber so 217mm reën gehad.Die 14de het daar water in ons pad (wat langs ons huis verby loop) en in my tannie se huis ingeloop, gelukkig is dit nie die hele huis nie, maar dit is nog steeds meubels en matte wat nat word. En as ‘n kamer se deur toe was (en die mat is nat) dan stink die kamer.

Moenie dink die water is skoon en was die huis se matte nie… Die water is vuil (soos sand, gras en dalk ‘n klein paddatjie). Ons was die vloere en mure en watersuig (suig die water uit met die stofsuier) die matte, na so ‘n vloed.

Die lande het lelike gate gespoel en die grondpad (wat verby ons huis loop) het soos ‘n revier gelyk, die water het met ‘n vaart verby ge’hardloop’ dit was so mooi nou die aand toe die son onder gaan.


Dit reën by ons en ek geniet elke druppel!!! Dit is al redelik nat en as dit bietjie droëer is sal ons begin om die lande te bewerk! Yes!! Ek kannie wag tot die plantjies so 2 tot 5 cm bo die grond uitsteek nie dit lyk altyd so goed! My pa-hulle plant gewoonlik in Desember (as dit nat genoeg is).

Desember-vakansie in amper hier, dan verjaar ek, dis kersfees en ek kan by my vriendin gaan kuier in die week. Al wat ’sad’ is, is dat ek nie my gimnastiek kan doen nie, maar nou kom ons weer by daai punt, van jy kan nie jou brood aan altwee-kante gebotter hê nie.

Ek het so twee weke teruk by die gimnastiek my balk-reeks gedoen en toe ek afspring en land soos ek moet (af tot by ‘n hurk posisie, arms reguit voor jou, dan weer op en arms horisontaal langs jou) toe met die hurk posisie, verloor ek my balans en val op my duim (dit was nogal seer) na so ‘n week was my vinger weer heel reg en kon ek hom weer gebruik, my een spiertjie het vinnig moeg geword (want hy het ‘n hele week gerus).

11 November 2008

24 October 2008

Honde

Ons bure het so ‘n week of twee terug ‘n jakkals moes skiet toe hy een van hulle honde gebyt het (hy’t hondsdolheid) en gister moes die bure hulle honde laat uitsit, want hulle het snaaks begin optree. Nou’s ek bang vir hierdie siekte wat nie ver van ons af is nie.

Maar ek glo God sal ons beskerm teen enige iets…

23 October 2008

Reën

Dit het gisteraand (onverwags) begin reën, toe ek so kwart oor twaalf wakker word van lig wat deur my venster skyn, kyk ek en sien dit is die weerlig!!! Ek is so opgewonde, dit het 38mm gereën!!!, dat ek sommer vanoggend vroeër opgestaan het om te gaan kyk hoeveel millimeter dit gereën het. En my kamervensters oop te maak. Dis darem ‘n wonderlike reuk.

21 October 2008

Vars

Daar is mooi wolkies in die lug en die windjie waai, die bos raak al bietjie groen (na twee keer se drie druppels) begin daar bietjie lewe wys. Ek is mal oor daai nat reën reuk, dit gee my ook net bietjie meer lewe.

Ek is bietjie verkoue maar die reuk het nog ‘n aaklige verkoue dag, amazing gemaak. Wys jou net hoe die natuur ‘n inpak op ons lewens het. Die reën maak nie net nat, gee plante lewe en gee mens en dier water nie, die reuk van reën gee jou sommer lus vir die lewe.

Na die winter met die Augustus-winde wens ek altyd dit wil net reën dat die stof nie so rondwaai nie (dit gee my sinus). In September wens ek weer die blomme moet verdwyn want dit gee my sinus. En Desember wens ek dit is winter want ek vrek van die hitte en in die winter wens ek weer dit somer. Maar soos die gesegte sê: “Jy kan nie jou brood aan altwee kante gebotter hê nie.” Die punt is hou jou mond en oorleef!!!

28 September 2008

‘n Vakansie

Ons was in die wildtuin en het baie diere gesien. Net om jou ‘n idee te gee, kyk gou hier: apies, bobbejane, buffels, blouwildebeeste, kameelperde, koedoes, olifante, lekewaan, hiënas, steenbokkies, duikers, klipspringers, waterbokke, vlakvarke, swartwitpense, leeus luiperd, jagluiperd, seekoeie, krokodille, sebras, ‘n jakkals en… daar is seker nog iets wat ek geskiep het.

Dit was net nog ‘n vakansie. Ek is mal oor die see, (die wildtuin in vir my baie soos hier by ons op die vlakte) en as ek terug kom van die see af, voel ek uitgerus, maar as ek terug kom van die wildtuin af dan voel dit ek moet ‘n paar oggende se vroeg opstaan inhaal (dans ek moeg).

24 September 2008

‘n Hanskalfie

Ons het in Desember ‘n kalfie (sy naam was Hercules) huis toe gebring, ons moes aan die begin 3 keer op ‘n dag melk aanmaak en vir hom gaan gee. Later het ons net 2 keer op ‘n dag vir hom melk gegee, toe is hy na die trop beeste toe. Hy was so mens mak, dat hy vir die ander beeste geskrik het en na die mense toe gehardloop het. Hercules is nou al deel van die trop beeste en skrik nie meer vir die ander beeste nie. Maar as ons vir hom gaan kuier loop hy al agter ons aan!

Een keer het ons kuiermense (my vriendin en my boetie se vriend het ook by ons gekuier), en ek gaan kry Hercules se melk en roep ons vriende en die kuiermense se seun om saam te gaan. Die wat Hercules wou melk gee, het ‘n beurt gekry en die wat nie wou nie het net gekyk. Toe ons klaar Hercules melk gegee het, het my jongste boetie ‘n stuk rubber in die kalfie se ‘hek-kraal’ ingegooi, ek klim toe op die hek, want ek is bang die draad (die hekke is ’oorgetrek’ met ogiesdraad) hak my nuwe hemp. Toe ek afspring gaan ek agtertoe in plaas van vorentoe, toe klap ek jongste in die gesig en toe val ek op my boud. Toe lag almal en jongste kan nie meer een traan stort nie want lag is wat hy nou net moet (want ousus het op haar ‘jack’ geëindig), toe kan ek ook nie help om te lag nie (ek meen, dit moet skreeusnaaks lyk as ‘n 13-jarige op ‘n hek klim en op haar ‘jack’ eindig. Terwyl die toeskouers twee van 13, twee van 11, een van 6, een van 5 en jongste van 3 is (en almal lag).).

Ek klim toe maar weer op die hek en sorg dat ek in die hek ‘kraal’ spring. Ek tel toe die rubber op en toe ek opstaan stoot Hercules my, net om te sê: KLIM NOU DADELIK UIT, DIS MY KRAAL!!! Toe ek ander kant die hek ‘kraal’ weer te lande kom is ek ook dik van die lag. Ons almal het gelag tot by die huis en as ek nou terug dink, kry ek maar net ‘n ‘massive smile.’