Ons het in Desember ‘n kalfie (sy naam was Hercules) huis toe gebring, ons moes aan die begin 3 keer op ‘n dag melk aanmaak en vir hom gaan gee. Later het ons net 2 keer op ‘n dag vir hom melk gegee, toe is hy na die trop beeste toe. Hy was so mens mak, dat hy vir die ander beeste geskrik het en na die mense toe gehardloop het. Hercules is nou al deel van die trop beeste en skrik nie meer vir die ander beeste nie. Maar as ons vir hom gaan kuier loop hy al agter ons aan!
Een keer het ons kuiermense (my vriendin en my boetie se vriend het ook by ons gekuier), en ek gaan kry Hercules se melk en roep ons vriende en die kuiermense se seun om saam te gaan. Die wat Hercules wou melk gee, het ‘n beurt gekry en die wat nie wou nie het net gekyk. Toe ons klaar Hercules melk gegee het, het my jongste boetie ‘n stuk rubber in die kalfie se ‘hek-kraal’ ingegooi, ek klim toe op die hek, want ek is bang die draad (die hekke is ’oorgetrek’ met ogiesdraad) hak my nuwe hemp. Toe ek afspring gaan ek agtertoe in plaas van vorentoe, toe klap ek jongste in die gesig en toe val ek op my boud. Toe lag almal en jongste kan nie meer een traan stort nie want lag is wat hy nou net moet (want ousus het op haar ‘jack’ geëindig), toe kan ek ook nie help om te lag nie (ek meen, dit moet skreeusnaaks lyk as ‘n 13-jarige op ‘n hek klim en op haar ‘jack’ eindig. Terwyl die toeskouers twee van 13, twee van 11, een van 6, een van 5 en jongste van 3 is (en almal lag).).
Ek klim toe maar weer op die hek en sorg dat ek in die hek ‘kraal’ spring. Ek tel toe die rubber op en toe ek opstaan stoot Hercules my, net om te sê: KLIM NOU DADELIK UIT, DIS MY KRAAL!!! Toe ek ander kant die hek ‘kraal’ weer te lande kom is ek ook dik van die lag. Ons almal het gelag tot by die huis en as ek nou terug dink, kry ek maar net ‘n ‘massive smile.’
No comments:
Post a Comment