16 May 2011

'n Vers en 'n man se kop werk baie die selfde!

In my hele lewe, nooit sou ek my die dag kon indink! Nou is dit werklikheid! My "baba" wil nie na my toe kom nie! Ek moet erken ek was LANK terug by haar. Of maak dit 'n maand terug. Nou ewe skielik, weier sy dat ek aan haar vat. Ek mag nie eers my hand na haar uitsteek nie.Maar, slim vang sy baas! Ek het besluit, die volgende keer wat ek na haar toe gaan SAL ek pellets saamvat. So maak ek toe en vat vyf blikkies saam. Dit was 'n stryd om haar te kry om die goed te kom vat. Na 'n paar pellets op die grond en 'n paar keer se skud van die bak het sy wel gekom en haarself kom vol vreet!
Nie uit die bak uit nie maar uit ma se hand uit! Later het ek haar bietjie begin vryf. Wat 'n stryd! Ek mag net haar kop, nek en boude vryf! En ook net as sy seker is daar is pellets in my ander hand! Sy is net soos 'n man, al hoe jy by haar hart kan uitkom is deur haar maag! Anders kan jy vergeet!
Toe die pellets op was het sy 'n 'n paar keer kop gestamp en die dat ek haar dan net vryf, het haar nie aangestaan nie. Pad-vat was volgens haar toe die beste opsie en 'ma' moes toe maar omdraai en baai sê. Tog effens vererg oordat sy 'n 'manne streep' op my kom staan en trek!! Ek sal nogal nie verbaas wees as sy dragtig is nie!

01 May 2011

Wat's dit!?

Ons ry vandag verby die een plaas se hek en met die verby ry vang 'n oog een of ander snaakse gedierte! Net daar word briek getrap en omgedraai! Hmmm.......... Soek, soek, en daar is die bewyse, dit is bobbejaan se kind! Amper val ek van my voete af! Dis die eerste bobbejaan op ons plaas! nou weet ons ook wie so versigtig mielies een, en die bewyse oop en bloot los!


Eina-pyn!!

Hoe kan mense so wreed wees!? Hierdie vers is in haar horing geskiet. Die horing het later afgeval. Maar kyk net hoe lyk dit!!