Showing posts with label Slange. Show all posts
Showing posts with label Slange. Show all posts

10 July 2010

Adrenalien Saterdag...

Eerstens dis Saterdag en die skool maak volgende week oop, so ek slaap laat. Toe ek wakker word lê ek in my bed en lees, my ma kom toe en vertel my van die mense wat kom voëls jag het, die een ou het in die boom geklim om sy voël te kry, toe pik 'n slang hom. Toe my pa kom toe sê hy die ou het so dronk en simpel gelyk, dit het rerig gelyk of hy gepik is deur 'n giftige slang. Wel, hy skeur toe gek, en nadat almal geskok was, kom die waarheid toe uit, 'n luislang het hom toe gebyt (gepik klink nie reg vir 'n luislang nie), die baba soos hulle hom noem en dan die ma. Die ma het hom gelukkig nie gebyt nie, maar die baba het, die baba was meer as 2m lank en die ma was meer as 4m, eerder 5m en langer! Dis vrek groot! Maar nie so groot vir 'n luislang nie.
Toe my pa kom ontbyt eet (so half elf), toe kom maak hy 'n draai in my kamer en vertel my dat hulle gister baie gesukkel het om Cindy en 19 ander verse te dip. Ek vlieg toe uit my bed en in my klere, ewe skielik baie haastig, ek gaan Cindy dip en die laaste bietjie van haar trop! YES! Toe hol ek na my oom toe en vra of ek kan gaan. Ek ry toe saam met hom en toe ons daar kom, sukkel die werkers om die 20 in die kraal te kry, en een vers wil-wil kalf. Ek gaan staan toe naby aan die kraal en roep "Cindy!!" toe kom die hele troppie ingestap. My oom besluit toe om die vers wat wil kalf eerste te dip, en hulle jaag haar toe in, ek helf toe my oom en 'n werker om haar in te jaag en die ander jaag toe vir Cindy-hulle in die ander kraal in. Ons van toe die vers verby na die drukgang en toe het ons haar vinnig gedip en haar weer uitgejaag. Toe dip ons die 20, maar dis twee drukgange vol. Met die eerste een spook hulle weer om Cindy in te kry en weer roep ek haar, en weer luister sy! Ek het gedink dis 'n enorme grap, want die mans sukkel met haar en ek maak net my mond oop!
Toe ons klaar gedip het en klaar opgeruim het en wil ry toe sien ons dat die versie besig is om te kalf, in die highway hek toe! Ons moes toe 'n ompad ry hek toe, en toe ons deur die hek is, moes ek agter die stuur inklim en die medisyne huis toe vat, want my pa en oom gaan sandplaas toe. Die laaste wat ek toe sien is die voorpootjies en die koppie! Dis te cute!!!
By die huis gekom en als op hul plekke is. Staan ek en my tannie en gesels, die volgende oomblik gaan die honde tekere! Dit klink of 'n orkaan die plek getref het! Ek, nog in my gumboots, kry vlerke en hoe ek dit gedoen het weet ek nie, maar ek spring toe oor die hekkie (1.5m hoog) en voor ek grond gevat het hol ek al! Ek dink as iemand my moes sien het hulle gelê soos wat hulle lag! Toe ek sien wat gebeur het wil ek sommer skree! Want die een ou het 'n rooster by my ma kom haal, om mee te braai. Toe het hy die hekkie oopgelos en my ouma se hond het in ons werf in gekom! Toe baklei die twee tewe. My ouma se hond het bietjie baie seer gekry, maar sy sal dit wel oorleef, daai hond is van staal!
Dit was my wonderlike Saterdag oggend! Ek het nooit gedink soveel adrenalien kan deur my are vloei nie! Nie in 'n kwesie van vier uur nie!

So lank, so stil!

Ek dink ek het nou vir lank genoeg die stilswye gehad! Ek het bietjie die laaste drie weke saam met pelle deurgebring! En elkeen apart geniet!! Die eerste twee dae van die eerste week was ek by die buurman se dogters, en dit was 'n lekker mal twee dae! Die volgende week was ek vir drie dae in Poties, en daar het ek my tydjie rustig voor 'n boek deurgebring (al hou ek nie veel van lees nie). Toe ek terug kom by die huis, is my ma hul oppad Witrivier toe, met die lorrie om voëltjiesaad vir mense daar te vat! En ry hul twaalf uur (elf uur beplan), die aand slaap ons dan by ouma. My ma bel my so vyf uur se kant en sê ek moet gou op "'n sagte landingsplek" gaan comment en vir die tannie vra sy moet my ma bel in verband met slaapplek in of om Lydenburg, want hul gaan Witrivier nie haal voor middernag nie! Die volgende oggend toe ek wakker word, toe praat my oom en ouma oor 'n wiel wat gebars het. Wel, die een band het gebars met 'n vol vrag! En toe stress ek tot my ma hul die Donderdag aand by die huis is!
Toe reël ek gou dat my maatjie die naweek kan kom, en dat my ma haar by die armydepo (seker so 15km van ons af) sal oplaai. Die Vrydag toe ons haar gaan oplaai het en als reg het, gaan loop ons toe by die store rond, toe roep een van die werkers my (hy weet ek is bang vir spinnekoppe) en sy gesing voorspel 'n skok wat op my wag, met al die wildskrag in my kyk ek toe, en toe gewaar ek hom! 'n Enorme pofadder, hys seker 1.5m lank (dis baie lank vir 'n pofadder!),
daarna is ons dorp toe, daarna het ons saam met my pa bale met die trok na die sandplaas gevat, met die eerste vrag het ons by Cindy gestop en haar bietjie aandag gegee terwyl my pa hul die water pomp en met die twede vrag het ons direk gery!
Die Saterdag het ons by al die beeste 'n draai gemaak en by die rotse gaan jol, die middag het ons tussen die lande rond geloop. Die Sondag was baie die selfde!
Tussen deur wag ek vir 'n antwoord van my pa af of ek mag Pretoria toe gaan vir die week of nie!
Dis toe 'n ja, en ek het 'n lift Pretoria toe gekry vir Maandag! Toe ons in Pretoria kom, is dit nog vroeg! Toe het ons bietjie in petshops rond geloop en later is ons na haar huis toe. Toe is ons na 'n 'mall' toe en toe bel my vriendin om te sê hulle gaan my nou kom oplaai.
So tussen als deur hoor ek toe dan maatjie haar arm verkeerde kant toe gebuig het en dat ons eers gou dokter toe gaan gaan. Gelukkig is niks gebreuk nie! Ek het die hele week BAIE geniet! Ek het gimnastiek gecoach en bietjie gehelp waar ek kon!
Toe ons moes baai sê toe tjank ek amper! Wonder wanneer ek haar weer gaan sien! Toe is ons Kolonade toe en toe huis toe...
En toe ons by die huis is en als afgelaai is, en my pa oppad na Henry is (hy was vir 'n week en 'n half op 'n spoorsny kursus), gaan my ma in die sitkamer staan en sê "het jy al die een gesien?" Ek dog sy praat van 'n enorme spinnekop, want sy is self skrikerig vir 'n spinnekom, maar darm nie so bang soos ek nie! Ek maak toe my waterbottel toe en stap nader. Toe ek die lyf sien, sit ek toe sommer nog vier pote aan!
Maar ek het gelukkig gou agter gekom dis nie 'n spinnekop nie, maar 'n verkleurmannetjie! Henry hulle het hom opgetel met die kursus, en dit lyk of hy gebrand het. Nou hou ons hom en dokter hom tot hy gesond is.
Dit was baie lekker! Thanks for friends like you!!

29 March 2010

Mosambiekse Spoegkobra

Hierdie maand is die “grooooot skrik maand” Dis die eerste keer dat ek soveel keer so hard skreeu in so ‘n kort tydjie… Amper het ek uit die hospitaal geskryf, maar Jesus het ‘n beskermengel om my gesit en daarvoor sê ek net BAIE DANKIE!!!

Wel, ek moet seker die storie begin vertel… My pa het so tien-uur iets kom haal by die huis en toe sê hy ek moet reg wees na ete dat ons drie kalfies kan gaan byvoeding gee, dit moet so wees dat ons die melk in die bos kan aanmaak en gee. Ek sê toe nee dis reg, (alhoewel ek voel of ek op my voete aan die slaap kan raak). So elf-uur toe ry my ma in dorp toe om Henry se pel te gaan haal en ‘n paar vars goed te gaan koop. Ek skil toe aartappels en wortels en gooi dit in die pot, en gaan gooi die biespoeier in sakkies van honderd gram elk (om ‘n liter in die bos aan te maak), soek die nuwe tiet, kry die bottels reg en gooi kookwater in om al die kieme dood te kry. Toe kom kyk ek eers na die kos, ek het gedink as ek nou by die huis kom is hy al in vlamme. Gelukkig het niks gebrand nie! Toe kom my ma terug en ek stap toe weer na my tannie se huis toe (al die beeste se goed is in haar en my oumagroot se huis), om die kookwater uit te gooi en die tiet ook te steriliseer, toe gooi ek weer water in die ketel om te kook, en koue water in bottel. Toe stap ek weer terug. Ek is redelik kwaad (omdat my pel keel-infeksie of ek weet nie wat het nie en nie kan kom nie. En omdat ek so min slaap inkry en die kalfies wat nou nog tussenin kom en sommer net oor als). Om my bloeddruk net nog op te jaag sit daar toe ‘n voël heel bo in die boom en skreeu uit volle bors! Ek soek hom toe, want ek sal vir hom dood kyk, ek’t nie lus vir enige iets nie, en toe sien ek hom nie eers nie. Ek gooi toe my kop agter oor en kyk na die wolkies. Toe gly my regter voet effens, en ewe skielik begin al my tannie se honde vir MY blaf, dit was net een te veel en ek wip my, ek draai my kop en kyk na hulle reg vir raas en baklei! Toe ek my oë knip toe sien ek ‘n baie weird stert en die stert hou aan… Ek kyk toe af na my voet en sien toe hou Brakkenjan die slang onder my croc uittrek sy bek minder as vyf sentimeter van my voet af. Toe hy die slang onder my croc uit het, toe tel slang se kind sy kop op vir ‘n pik, ek spring toe, toe ek sien wat gaan gebeur en in die lug begin ek skree! “Mamma kom hier! Help! Kom help! Ma Hardloop. Kom bitter vinnig!!!” Toe bars ek in trane uit, en hoe meer ek vir Brakkies sê los die slang hoe meer speel hy met die slang.

Toe ek weer sien is ouma, ma, Henry en sy pel almal daar. Toe vat Henry ‘n stuk bloekom pas en vermink die slang nog meer! Die ding was toe al in stukkies geskeur soos die honde hom al gebyt het. Toe kom Henry se steekbaard Jack Russel, De La Rey uit, en hier hol al die honde weer op en af langs die draad! Toe byt Brakkenjan en De La Rey mekaar eers deur die draad, My ma hol toe my tannie se huis in om water te kry om die honde mee te gooi dat hulle net mekaar kan uitlos…In tussen krul slangetjie en try die ding seil! Toe tjank ek nog steeds. Toe die honde uitmekaar is, het ek die tuin vurk gaan haal en die een pen deur slang se kop gedruk. Toe het Henry hulle hom weg gevat en my ma het suikerwater gebring en ek het my bes probeer om te kyk of een van die honde nie dalk gepik is nie. Wonderbaarlik nie!

Na ete toe vra al die bediendes my of ek ‘n slang gesien het? Want hulle het my hoor skree! My ma sê toe dit het gekink of ek in die huis is en ‘n spinnekop gesien het, Henry stem toe saam dat dit so geklink het. Die ergste van al is ek was so 50m van hulle af weg!

30 November 2009

Slang seil en sis

Ons het vandag op die sand plaas ‘n draai gaan maak om te kyk of alles nog reg en in plek is want ons maak reg om die beeste soontoe te trek (ek kan nie wag nie). Ons stop toe by die sementdam. Die dam en trappies en ‘n klein kamertjie waar op ‘n drom staan is aanmekaar vas gebou. By die dam is ek en kleinboet eerste uit en ons hardloop op die ongelyke paadjie vol oliebome, stene en stukke hout, toe die trappies op en bo gekom gaan ek staan en wag vir kleinboet. Ek steek toe my hand uit en wil teen die kamertjie leun, maar voor ek aan die kamertjie raak sien ek vir Luisie ons ou vriend wat ons uit die dam gered het. Maar kyk so lief soos ek vir ‘n luislang is so groot het ek geskrik! Ek spring toe op die damwal (dit in ‘n millisekonde) en skree vir kleinboet “pasop! Luislang!” my nefie sê ek het gesê “passsop!! Luissssslang!!!”

Ek kan bly wees ek het nie in die dam gespring toe ek geskrik het nie, want daar was twee dooie watervoëls en ‘n slang in, die stukkies vleis het in die water gedryf en daar was wurms, alge en die vrot karkasse. Dit her gruesome gelyk!

My pa en oom gaan eers die dam uittap en die gagga goed uithaal voor hulle weer gaan begin water intap.