28 February 2012

My nuutste troeteldiere...

Na 'n lekker reën is daar altyd nuwe lewe in die veld. Veral as jy begin rondkyk en oplet na die klein dingetjies in die lewe. 
So kom ek eendag in Januarie op 'n dammetjie water in 'n voor af. Dis net rimpels en soos ek deur die modder loop voel ek die vissies teen my vas swem. Net daar buk ek af en hou die klompie paddavissies dop.
In my agterkop speel kleintyd se paddavissies af. Die wat, ek dink my pa, in 'n roomysbak gevang het en die roomysbak buite in 'n kruiwa gestaan het. Daar het ek en ouboet gekyk hoe die vissies groei en paddatjies word.
Later moes my pa hulle gaan vrylaat, ver van die huis af, want ma was net glad nie lus vir 'n gekwaak as sy wil slaap nie.

So besluit ek om een middag so tussen die plantery deur 'n bottel vol vissies te vang en die twee klein boeties ook te wys hoe word paddavissies, paddas!

 So kry ek die vistenk weer uit die kas en maak hom skoon.
 Gooi sand in en sit al my nuwe vissies in hom!

 Oeps... Wat eet paddavisse? Vra vir Google, hy sal weet!
Wel, gaar blaarslaai. So kook ek 'n slaaiblaar en sit hom in die vrieskas, sodat ek daagliks 'n klein stukkie in die "tank" kan sit.
 Dis nie lank nie of die vissies begin toe agterpote kry.
 Party sin is nog net sigbaar, maar nog nie daar nie.
 Die vissies het geëet en gegrooi vir 'n eerste plek.
 Dit was altyd so interesant om hul dop te hou soos hulle eet!
 Toe begin hul gesiggies al meer en meer na 'n padda sin lyk en hul agterbene skop lekker in die water. En soms sal hul uitkruip op die klip wat ek in die "tank" gesit het.
Dit was nie lank nie of hul lyfies het al langer geword.
En toe kom hul voorpote... Toe moet ek krieke vang vir hulle, sodat hul daai protiene kan inkry!!
 Daarna het hul stertjies al korter geword en het hul regte paddatjies geword. 
 As hul so uitkruip op die sand of klippe gedurende die nag...
 Dan het hul my soms wakker gekwaak!! 
Dit was nogal lekker om my prinse groot te maak!!

26 February 2012

Kinder gesiggies!!

Aw ek lief kinders stukkend! Waar (klein) kinders is, is daar altyd 'n klok helder lag, harde stemmetjies, een masiewe gespelery en 'n doel vir die lewe! Kleintjies is met so min so gelukkig, maak van min, BAIE. En laat jou baie keer omkyk net om seker te maak jy het reg gehoor of gesien...
Ek deel 'n paar sterre-liggies:












11 February 2012

Toiletpapier... Die beste wapen!

Ek is baie bang vir 'n spinnekop en hoe groter, swarter, leliker en hariger hy is, hoe meer histeries huil ek as ek een sien. Ek het so 'n maand terug my heel eerste een dood gegooi met die toiletpapier, toe eenkeer het die rol gevat en vier dood gedruk. Maar die eintlike storie gaan ek nou vertel...
Ons het net een stort op die werf en dis die een by die woonstel en kantoor. Ek is gek oor stort, so elke aand pak ek my tassie en stap rustig (partymaal op my senuwees) en gaan stort. Die kantoor is vrot van die spinnekoppe, alle kleure, grotes en ag nee noem dit.
(Net gou 'n gewone dag se stort: Kom by die kantoor, skuif die hande handdoek eenkant toe en hang my handdoek op. Dan skuif ek twee matjies voor en langs die een kant van die stort, anders swem die badkamer... Dan stort ek gou, trek aan, smeer partymaal my bene room in die kantoor. Was my hande, skuif die matjies en handdoek elkeen weer op hul plek. Kry al my goed weer bymekaar en loop terug huis toe.)
So kom gisteraand. Ek gaan stort na 'n dag se plant, geniet dit, maar doen dit vinnig, want ek wil goed by die huis klaar maak voor ek in die bed spring! Toe ek klaar is skuif ek die matjies en handdoek reg, gaan sit in die kantoor, smeer my bene room, spring op om my hande te was. Ek is net mooi tussen die badkamer se deur en die wasbak toe ek die DING sien (tussen die stort en blou kanne), ek kry net daar stilstuipe... 'n Rilling loop al langs my ruggraat af.
Meneer besluit toe hy wys my hy leef, al is hy bietjie nat!! Hy gee een treetjie, nogal weg van my af, toe gee ek DRIE agtertoe. Drie GROOT tree! Ek hol die badkamer in en gryp my plakkies en is weer soos blits daar uit! En eindig op die stoel aan die regterkant van die badkamer se deur en daar begin ek tjank...
Ek oorweeg weghardloop. Huis toe! Maar die gedagte skiet deur my kop, as ek hom nie nou vrek maak nie, weet ek nie waar hy is nie en netnou maak ek my lekker toe in my handdoek en dan loop meneer hier langs my gesig, op my handdoek, op my skouer. Dit sal soos GLAD NIE cool wees nie!! Dit gee my toe die moed om van die stoel af te spring, die badkamer in te hol en op die toilet te gaan staan. Daar bewe ek so groot soos ek is en ek tjank histeries!
Ek sak af tot op my hurke, hou die spinnekop aan my regterkant dop en haal die toiletpapier aan my linkerkant uit die houer uit. Maar ek bewe so ek kry dit skaars reg! Ek staan weer regop en rol die papier weer op (dit was amper meer af!). Ek lek die papier nat, sodat die helfte nie in die lug afrol nie. En toe GOOI ek om dood te gooi!!
Dis mis, dis wragties mis!! Super stressed, begin ek weer van voor af huil, want die toiletpapier is langs spinnekop en hy LOOP!! Ek spring van die toilet af, gryp die papier en wil net weer terug hardloop, toe ek besluit ek gaan die rol op hop 'drop'! Die papier raak skaars grond toe spring ek al uit die badkamer uit!
Ek loop stadig in, en begin die spinnekop bekruip. Daar is hy... Ek vries en kyk vir hom, hy het sy bene ingetrek en lyk nou na 'n klont grond. Ek kyk die toiletpapier wat so 'n sentimeter van hom af lê en tjank sommer weer. Toe doen ek soos blits...
Ek gryp die toiletpapier en ek hol uit!! Daar dink ek aan 'n plan. Ek moet hard gooi dat die papier weg hop. Ek bekruip weer die spinnekop, stadig maar met vasberading en 'n doel! Stop. Staan regop. Mik. En... Gooi, baie hard. Met een hop, hop ek met 'n massive gil, die papier en die spinnekop!!
Ek bekruip WEER die spinnekop! Gryp die papier en tjank 'n snotskoot! Ek moet net seker maak hy is mors dood, ek wil hom nie bewusteloos of half dood of net dood hê nie! Ek WIL hom mors dood, vrek hê! Dooier as dood!! Met 'n blits beweging, ek bedoel werklik vinnig, vinniger as my skaduwee, druk ek hom twee keer met die rol papier, spring op en hol uit die badkamer met die papier in my hand.

Nou moet ek vir spinnekop daar weg kry... Ek loop terug en kry vier ou rolletjies (wat gebêre word vir my tannie se Gr.R kinders vir kuns), druk dit in mekaar, kry sellotape en plak al die gate toe, behalwe een...
Ek vat my toegeplakte "pyp" en stoot die spinnekop tot hy in die ding is. Plak ek die laaste gat toe, bere hom voor in my sak, was uiteindelik my hande, gryp al my goed. En stap met mening, snuif snuif huis toe...


Hoop ek het jou dag gemaak! In die situasie was dit vir my glad die snaaks nie, maar nou... Dis hilarious!!