Showing posts with label Spinnekoppe. Show all posts
Showing posts with label Spinnekoppe. Show all posts

11 February 2012

Toiletpapier... Die beste wapen!

Ek is baie bang vir 'n spinnekop en hoe groter, swarter, leliker en hariger hy is, hoe meer histeries huil ek as ek een sien. Ek het so 'n maand terug my heel eerste een dood gegooi met die toiletpapier, toe eenkeer het die rol gevat en vier dood gedruk. Maar die eintlike storie gaan ek nou vertel...
Ons het net een stort op die werf en dis die een by die woonstel en kantoor. Ek is gek oor stort, so elke aand pak ek my tassie en stap rustig (partymaal op my senuwees) en gaan stort. Die kantoor is vrot van die spinnekoppe, alle kleure, grotes en ag nee noem dit.
(Net gou 'n gewone dag se stort: Kom by die kantoor, skuif die hande handdoek eenkant toe en hang my handdoek op. Dan skuif ek twee matjies voor en langs die een kant van die stort, anders swem die badkamer... Dan stort ek gou, trek aan, smeer partymaal my bene room in die kantoor. Was my hande, skuif die matjies en handdoek elkeen weer op hul plek. Kry al my goed weer bymekaar en loop terug huis toe.)
So kom gisteraand. Ek gaan stort na 'n dag se plant, geniet dit, maar doen dit vinnig, want ek wil goed by die huis klaar maak voor ek in die bed spring! Toe ek klaar is skuif ek die matjies en handdoek reg, gaan sit in die kantoor, smeer my bene room, spring op om my hande te was. Ek is net mooi tussen die badkamer se deur en die wasbak toe ek die DING sien (tussen die stort en blou kanne), ek kry net daar stilstuipe... 'n Rilling loop al langs my ruggraat af.
Meneer besluit toe hy wys my hy leef, al is hy bietjie nat!! Hy gee een treetjie, nogal weg van my af, toe gee ek DRIE agtertoe. Drie GROOT tree! Ek hol die badkamer in en gryp my plakkies en is weer soos blits daar uit! En eindig op die stoel aan die regterkant van die badkamer se deur en daar begin ek tjank...
Ek oorweeg weghardloop. Huis toe! Maar die gedagte skiet deur my kop, as ek hom nie nou vrek maak nie, weet ek nie waar hy is nie en netnou maak ek my lekker toe in my handdoek en dan loop meneer hier langs my gesig, op my handdoek, op my skouer. Dit sal soos GLAD NIE cool wees nie!! Dit gee my toe die moed om van die stoel af te spring, die badkamer in te hol en op die toilet te gaan staan. Daar bewe ek so groot soos ek is en ek tjank histeries!
Ek sak af tot op my hurke, hou die spinnekop aan my regterkant dop en haal die toiletpapier aan my linkerkant uit die houer uit. Maar ek bewe so ek kry dit skaars reg! Ek staan weer regop en rol die papier weer op (dit was amper meer af!). Ek lek die papier nat, sodat die helfte nie in die lug afrol nie. En toe GOOI ek om dood te gooi!!
Dis mis, dis wragties mis!! Super stressed, begin ek weer van voor af huil, want die toiletpapier is langs spinnekop en hy LOOP!! Ek spring van die toilet af, gryp die papier en wil net weer terug hardloop, toe ek besluit ek gaan die rol op hop 'drop'! Die papier raak skaars grond toe spring ek al uit die badkamer uit!
Ek loop stadig in, en begin die spinnekop bekruip. Daar is hy... Ek vries en kyk vir hom, hy het sy bene ingetrek en lyk nou na 'n klont grond. Ek kyk die toiletpapier wat so 'n sentimeter van hom af lê en tjank sommer weer. Toe doen ek soos blits...
Ek gryp die toiletpapier en ek hol uit!! Daar dink ek aan 'n plan. Ek moet hard gooi dat die papier weg hop. Ek bekruip weer die spinnekop, stadig maar met vasberading en 'n doel! Stop. Staan regop. Mik. En... Gooi, baie hard. Met een hop, hop ek met 'n massive gil, die papier en die spinnekop!!
Ek bekruip WEER die spinnekop! Gryp die papier en tjank 'n snotskoot! Ek moet net seker maak hy is mors dood, ek wil hom nie bewusteloos of half dood of net dood hê nie! Ek WIL hom mors dood, vrek hê! Dooier as dood!! Met 'n blits beweging, ek bedoel werklik vinnig, vinniger as my skaduwee, druk ek hom twee keer met die rol papier, spring op en hol uit die badkamer met die papier in my hand.

Nou moet ek vir spinnekop daar weg kry... Ek loop terug en kry vier ou rolletjies (wat gebêre word vir my tannie se Gr.R kinders vir kuns), druk dit in mekaar, kry sellotape en plak al die gate toe, behalwe een...
Ek vat my toegeplakte "pyp" en stoot die spinnekop tot hy in die ding is. Plak ek die laaste gat toe, bere hom voor in my sak, was uiteindelik my hande, gryp al my goed. En stap met mening, snuif snuif huis toe...


Hoop ek het jou dag gemaak! In die situasie was dit vir my glad die snaaks nie, maar nou... Dis hilarious!!

13 March 2010

“O spinnekop kind as ek jou vind, dan staan elke haar orent!!!”

Netnou toe droog ek my hande af en die gordyn (die gordyn is reg langs die handdoekie en voor die gordyn is die wasbak (dis in die kombuis)) waai bietjie weg en toe hy terug sak toe is daar ’n spinnekop!!! En ek sien as ek my hande nie vinnig genoeg daar weg vat nie gaan die spinnekop van die gordyn af, tot op die handdoekie hol en dan op my hand, dan my arm, dan my LYF!!!!!!! Van skok sukkel ek toe om my hande uit die handdoekie te kry! Toe hak ek af en ek skreeu! KLIPHARD!!!! Dis ’n wonder dat die dak nog op die huis is! En ek spring, so hoog en so ver as wat ek kan! Toe bars ek histeries in trane uit! Ook kliphard!

Henry (oudste broer) wat gesit en eet het val toe amper van sy stoel af, van my geskree! Toe hy, sy bewussyn (LOL!) herwin, hol hy en gaan maak daai spinnekop vrek! Ek was toe op mxit en het met Henry se pel gepraat, ek skree toe vir Henry praat met jou pel ek kannie nou nie! Hy stuur toe “my sussie is histeries sy kannie nou praat nie!” sy pel reply met “spinnekop?” Wys jou al sy pelle weet al ek haat ’n spinnekop!

Die drie kleintjies (Johan, André en nefie) het rustig gesit en speel in die sitkamer, maar moes net na die kommosie kom kyk! Henry stuur toe vir Johan en nefie om suiker water te gaan haal, klein André kom staan langs my en vra die heeltyd “hoekom huil jy dit was net ’n spinnekop.”

Na seker maklik vyftien minute, hou ek toe op met tjank, toe sê neef “jy weet wat? Ek dink dis die heel eerste keer dat ek jou so hoor gil – dit was HARD! En ek het jou nog nooit so hoor huil nie! En ek dink dis die eerste keer dat Henry sê maak gou! As daar iets vir jou gedoen moet word.”

My ma het met haar ma gepraat, toe dit die kommosie was. Toe sy klaar is kom vra sy my: ”Tich, soos wat jy aangaan het ek gedink El (een van my BFF’s) het gesê sy wil nie meer iets met jou te doen hê nie. Of R (nog ’n BFF) wil nie meer met jou praat nie. Of K (nog ’n BFF) het gesê sy kannie meer kom kuier nie. Maar nou moet ek hoor dit was maar net ’n spinnekop...”

Wel, as dit een van daai was, het ek ook so histeries geraak! En dalk nog erger te kere gegaan, maar ’n spinnekop bly erg!!!Ek dink vanaand kry ek nagmerries van niks! Thys die Bosveldklong stel dit goed: “O spinnekop kind as ek jou vind, dan staan elke haar orent!!!” Well that’s me!