Showing posts with label Hanskalfies. Show all posts
Showing posts with label Hanskalfies. Show all posts

03 July 2011

'n Woeste daggie...

Die beeste het weereens besluit die draad lyk goe genoeg om op te voeter, dit op betaal naweek met 'n snerpende koue wind, en toe kies bees se kind nog die plek met die meeste klitsgras en ek weet nie wat se soort bossie nie, al wat ek weet, daai bossie hou van in jou skoenne klim en dan byt hy die blou wilde waks uit jou uit. Soos altyd het ek my kamera by my gehad en 'n klomppie snaakse fotos te neem.
Met die foto het ek deur 'n ysterpaal se gaatjie die draadtrekker afgeneem.
Hier het ek weer die doringdraad van nader bekyk, as jy mooi kyk sien jy self die spinnekop se drade...
Hierdie is die bolwelf van die krip.
Hier geniet 'n koei en 'n klein bulletjie die lekkerte van beeswees: lek.
Die twee oulikste en nuuskierigste kalfies onder die son!
Besig om bale te laai met die imobilie, vir Cindy kind en die res van haar trop.
The power of worship...
Cindy geniet die bale op die wa...
Andre se maag na Cindy hom geskep het met haar horing en haar ma haar amper iets aangedoen het!

15 June 2010

Die afskeid was erg!

Ek moes vandag afskeid neem van Socket... My pa hul het hoem verkoop aan die voerkrale, en hy is vandag gelaai saam met 'n paar ander koeie en kalwers. Ek het vir oulaas 'n paar foto's van hom op die lorrie geneem. My oom het die lorrie in die werf parkeer dat ek, my tannie en die seuns kon afskeid neem. Die trane het amper geloop, maar ek het dit ingehou oordat daar 'n spul goed is wat gedoen moet word, want Johan het gister 8 geword en het partytjie gehad vanmiddag. Een van die dae is Socket polony! :'-( Shame, as hy maar net weet wat op hom wag...
En al sy maatjies...

27 March 2010

Beter kon dit nie!

Ek het vandag ‘n groot verlange na Cindy gekry! Ek het so verlang na “MY baba,” dat ek ‘n voorstel maak dat ek en Henry (ouboet) ry met die fietse en gaan kyk of ons haar sien. My Pa het my mooi laat verstaan dat Cindy glad nie na hom toe kom nie en sommer haar ore wapper (om te sê jy is in moeilikheid meneer gee pad!). Wel, vandag toe wip ek my! Niemand sê as hulle daar gaan water start nie, en hoe anders gaan ek daar kom. En hoe meer my pa vir my sê Cindy sal my nie herken nie hoe meer harde kop word ek!

Daar aangekom, sien ons die eerste bietjie verse en toe ek my mond oop maak en praat, slaan hulle op vlug! Ek stuur toe ‘n skietgebedjie op dat Cindy net nie SO wild is nie!

By die hek, is daar nog ‘n troppie, en ek doen die selfde, begin met hulle praat, en wat doen hulle, niks anders as hol die bosse in! Ek dog ek gaan dood! Waar is Cindy en is sy rêrig ook so wild?

Soos ons aan ry krip en kraal toe sien ons dat dit hulle troppie is wat daar lê! Dis die verse wat naby die huis geloop het en die een versie lyk baie bekend!

Ek sê toe Pienkie? En toe kyk die vers my so skeef weg aan! Ek wil toe in trane uitbars, want sy kom nie na my toe nie en ek sien nie vir Cindy nie! Toe sê Henry daar’s sy! En hy wys na ‘n vers! Ek soek nog na my baba en hier lê ‘n vers!!! My hart mis ‘n paar slae! En ek begin praat en roep en ag sommer net gesels! My stem hak toe bietjie op ‘n plek, want die trane van blydskap wil sommer loop en die van hartseer ook. Blydskap oordat ek haar na ses maande weer uiteindelik sien en hartseer oordat sy nie na my toe kom nie. Terwyl ek praat is dit amper of sy haar kop in ongeloof draai en haar ore so wil draai om dood seker te maak sy hoor reg, toe my stem hak, toe gee sy so ‘n ligte bulk, amper of sy wil sê is dit rêrig my ma wat eindelik weer kom kuier het?

Toe kon ek nie meer die versoeking weerstaan om na haar toe te stap nie! Op pad daarna toe gaan ek eers by Pienkie om, wel sy’t net my hand geruik en my skaars vyf sekondes kans gegee om haar voorkop te vryf toe loop sy.

Toe ek na Cindy loop wil sy my ontglip, en ek spring haar toe voor en hou my hand na haar uit , ruik hom en gee hom so ‘n paar lekkies. Dit gee my moed en ek begin haar kop vryf en later haar nek ook. Maar toe ek ‘n tree nader aan haar gee is dit amper of sy wil weghol. Ek vat toe my tyd en nie lank nie toe staan ek reg langs haar en ek vryf haar hele lyf, tot haar maag, (sy is tot dusvêr die enigste kalf wat ek onder die maag kan vryf).

Na ‘n ruk toe besluit sy dis genoeg. Toe gaan groet ek maar vir Pienkie en daarna “my Baba.” Cindy bly my fotogeniese kalf!!!

Ons het toe ons hande in die krip gaan was, toe kom ‘n paar verse en kyk wat ons doen. EK dink hulle het gewonder of ons mal geraak het…

Daarna pak ons toe die terugrit aan.

Dis sowat 8km wat ek vandag te fiets aangedurf het, en ek dink dis nie die eerste en laaste keer nie, dit was suksesvol en ek sal dit met graagte weer aanpak, volgende keer vat ek net kalfpille saam!!!

10 September 2009

My baba is uit die huis uit!!!

Saam met die “Dankie, tog ons is by die huis” sug, het ek ook ‘n paar trane gestort…Ek het die nuus gekry dat Cindy die 4de September, saam met die verse, weg is van die kampie by die huis na ‘n kamp by vêr van die huis. Ek gaan kuier toe vir haar en op pad soontoe sê my pa dat my oom vir hom gesê het Cindy is nie meer gepla oor mense nie, toe is ek lus en ‘crack’. Wel, ons stop toe in die trop en ek roep “Cindy! Waar’s jy ma,” sy ruk haar kop op, spits haar ore en kyk rond. Toe sy my nie sien nie, gee sy moed op. Toe klim ek uit en stap praat saam na haar toe, die dom ou Hoed staan toe reg voor haar en sy sien my nie. Maar toe sy my sien is dit amper of haar oë meer blink as ooit vantevore! Ag, toe vryf en stamp ons kop, ek het ‘n spul soene gekry en sy ook!!! Eks baie lief vir haar! Geen ander dier sal my mag soen nie.Eks baie lief vir Cinds en moet nou maar ‘n “in-love” foto opsit! LOL!

13 August 2009

Dit gaan so-so met Cindy

Cindy word weggestoot en gestamp by die bale en water, maar as ek ‘n tydjie kry, gaan staan ek langs haar dat sy kan vreet of water drink. As ek haar naam roep tel sy haar kop op en spits haar ore, dan is dit amper asof sy weet nou speel ons wegkruipertjie en dan soek sy my tot sy my kry. Dit is so lekker as sy my hare sopnat lek en dit bietjie kou so asof dit die “in die mode” gras is of as sy my gesig was of met my kop stamp of my onder my boud haak as sy wil hê ek moet saam met haar stap. Dis ‘n gesukkel om van haar ‘n ordentlike foto te neem, sy kom elke keer na my toe en loop my dan amper onderste bo.
Socket is ‘n redelike moeilike kalf, al wat jy moet doen, is hom vang die tiet in sy mond sit en hom bietjie help, hy het glad nie baie krag nie maar kan darem suig.
Pienkie verlang haar dood na Cindy en sy bulk heeldag deur, maar dis darem beter as gister…

12 August 2009

"My baba gaan bly in die koshuis"

Ek was besig met skool toe my ma ‘n oproep kry , “Dis pa, hy vra jy moet asseblief kom help met Cindy! Sy moet verse toe.” Ek’t nie twee sekondes geaarsel nie, ek het soos ‘n koeël uit ‘n geweer by die huis uit gehardloop, toe ek daar kom, kyk Cinds my net aan asof ek TE laat is. My oom met ‘n bottel melk en my pa met die houer met kalf pille en ‘n hele klompie werkers sukkel om vir Cindy by die hek uit te kry. Sy loop tot in die hek, draai om en hol terug, so asof daar ‘n roofdier agter haar aan is!!! Toe sy dit die derde keer doen hardloop sy tot teen haar kampie (waar Pienkie nou in is (in Pienkie se hok is die nuwe kalfie, Socket).
Ek vat die bottel melk by my oom en die houer pille by my pa en stap reguit na Cinds waar sy lang haar pel, Pienkie staan, sy het my aangekyk so of ek al uitweg sal kan wees. Toe loop sy met mening na my toe en eet die pille, ek stap toe stadig maar tog met ‘n doel hek toe, met haar kop in die pak loop ek en sy sonder moeite by die hek uit. Seker so tien meter van die hek af gaan staan sy bot stil en bespied wat om haar aangaan, so of niks haar pla nie sit sy haar kop weer in die bak en begin weer rustig vreet. Ek laat my nie twee keer nooi nie en ek loop weer aan.Toe ons by die verse in stap, kyk hulle eers die “mal” kalf aan (sy loop dan so na aan daai gediertes op twee bene), toe kry hulle die hol koors!!! Arme Cindy weet nie wat nou aangaan nie en besluit toe om ook te hol. Dit was skreeu snaaks, sy kon nooit in haar kampie hardloop nie, dit was te klein, al wat sy in die kampie kon doen, was bok… So sy het bok-bok gehardloop.Nou kry sy minder melk en pille ;-(. Dit gebeur nie as haar me vir haar melkof pille gee nie(hulle gee vir haar 700ml en ek top die bottel op met water tot heel bo, hulle gee vir haar 2 (afgeskraapte) blikkies pille en ek hoop die blikkies op en gooi so ‘n bietjie ekstra nog by).

15 April 2009

“Ma van twee”

Ons het nou definitief vir Pienkie, want haar ma se melk het opgedroog. Ek voel trots op wat ek reggekry het. “Ma van twee” en ek is lief vir altwee (Cindy en Pienkie). Dis maar soos troeteldiere, ek is nie lief vir honde nie en het nog nie rêrig my eie troeteldier gehad nie, omdat ek nie veel daarvan hou nie. Alhoewel ek guppies gehad het, maar dis mos ‘n vis!

03 April 2009

Pienkie

Ons lig die koei met die ‘high-up’ maar sy kan nog nie staan nie, en my boeties het die kalfie ‘n naam gegee, dit is Pienkie. Wel ek het nou-nou gestap om vir Pienkie melk te gee (ons het haar by haar ma in die kraal gesit), toe ek Pienkie wil vang om haar melk te gee, hol sy weg en gaan staan onder haar ma se kwaai horings! Ek bel toe my pa om te hoor of hy werkers gelos het om my te help, sy antwoord is toe “nee, ek sal jou nou kom help” Wel toe hy hier is toe wil ek weer vir Pienkie vang en sy hol weg! Toe is hy kwaad en sê bly net hier by Pienkie ek is oor so ‘n uur terug!!! Ek besluit toe ek lê op die trekker (ek is so moeg, want my oom-hulle is op vakansie en ek moet na hulle honde, visse en huis kyk, en dan is Cindy ook net my ‘baby‘), Na ‘n ruk toe kom Pienkie nader en die koei loop op haar voorbene se knieë (dit pla my nie), toe gaan ek na Pienkie toe en vang haar. Pienkie gaan toe aan die bulk, toe spring die koei op (wat glad nie goed is vir haar bene/heupe nie) en val weer, ek los toe vir Pienkie en gaan sit vir ‘n rukkie op die treker om te kalmeer. Toe die koei op haar sy lê, lyk sy ‘magteloos’ toe sien ek kans om naby haar te staan en Pienkie melk te gee. Die Pienkie se melk is in en ek ly aan skok…

31 March 2009

Dit is alweer aanneemtyd…

Ons het vandag ‘n ‘persentjie’ gekry! ‘n Koei het in ‘n middelsplit gelê toe my pa-hulle by die beeste gekom het…

Die koei het ‘n klein kalfie (nog met ‘n naelstring), sy lê en kan nie op staan nie, sy moes iets in haar agterbene of so seer gemaak het, nou kan die kalfie nie melk drink nie! Ons gee die versie bies aanmaak melk, (dis pienk, stink bietjie, en is baie veterig) as jy haar eers gevang het en die tiet in haar mond is, suig sy, maar die vang, vashou en tiet insit is nie vir “sissies” nie.

01 February 2009

Dis ’sad’

Rooiers wou nie gesond word nie. En het vanoggend glad nie krag gehad nie, as jy sy kop optel en jy los sy kop, gaan sy kop dierek grond toe… Toe het my pa en my oom besluit dit sal beter wees vir die kalfie om dood te wees as om te lewe. Want as hy lewe dan kry hy swaar en ons moet sien hoe hy swaar kry, maar as hy dood is sal hy nie swaar kry nie, en ons ook nie (dis nogal swaar om te sien hoe spook ‘n kalfie (sonder ‘n ma) met ‘n siekte).

So ma se seun is dood… ;-( maae ek sal daar oor kom!

16 January 2009

Die nuwe kalfie Rooies

In die 3de Januarie se oggend het (die outjie wat vakansie werk hier gedoen het) ‘n koei ingespuit want sy’t rooiwater, die middag het my oom gaan kyk of sy nog lewe en die aand het hy so 8uur gaan kyk of sy nog lewe, toe is sy al vrek. My 2 ooms het toe nie kansgesien om in die donker na ‘n kalfie te soek en te vang nie. Die 4de, die Sondag het ons gewag vir die oom van die krokodilplaas hier naby, om die dooie koei te kom oplaai vir sy krokodille. Toe hy uiteindelik so 10 uur hier is het ons saam gery en toe het ons gespook om die opgeblaasde, swaaaaaar koei op die bakkie te laai dat die oom haar net na sy krokodilplaas toe te kan vat. Ons was my 2ooms, my pa my 3 nefies(18, 16 en 7) ek (14) en my 3 boeties (12, 6 en 4) en dan ook nog die oom van die krokodilplaas met een van sy werkers (ek is amper so sterk soos die werker, dalk net bietjie onvas op my voete, waar die werker redelik stewig is). Toe het ek my 3 boeties en my nefie (7) elkeen ‘n krokodiltand gekry (Jis, maar daai tande is sooo stomp, wys jou hoekom ‘n krokodil se kakebeen so sterk is).

Toe moet ons nog die kalfie soek en vang. Dit was darem net so 20 minute teenoor die koei se laai wat amper ‘n uur was. My 1 oom het die kalfie vinnig gevang (dankie tog, want ek het gedink ek gaan nog dood gaan van die hitte). Die kalfie het ‘n paar keer met die huis toe ry op gespring en dan sukkel ek en my nefie (16) om hom weer te laat lê (dan dink ek by my self: as die tralies nie op was nie, dink net hoe sou jy dan gesukkel het dat jy nie af voeter nie. Want as hy opspring dan HOL hy vir die tralies!!!). Daai Rooies (bulletjie, die nuwe kalfie) drink nog nie self die bottel nie, ons sukkel maar elke dag (3keer op ‘n dag) se om net die melk in sy keel af te kry. Ons gebruik ‘n bottel met ‘n kunsspeen om die kalfies melk te gee. Gewoonlik is dit net so 5 keer se sukkel dan suip die kalfie self aan die kunsspeen, maar hierdie bulletjie dink anders.

15 December 2008

My susie kalfie

Ons het ‘n nuwe hanskalfie genaamd Cindy. Ek is mal oor haar, sy was die week van die 8ste Desember siek (haar maag het soos ‘n spuitfontein gespuit) maar nou gaan dit al beter, sy is so oulik en ek is mal oor haar. Hier het 2 seuns gekuier en elke keer as ek vir Cindy hoor bulk dan sal ek iets sê soos ‘Ja mamma se kind!’ of ‘Is jy honger Cindy-kind?’ of/en ’Mamma sal nou vir jou melk gee’ of so, dan terg die 2 seuns en my boeties my dan sê hulle goed soos ‘Kyk, sy lyk wragtag nie soos jy nie!’ of ‘Wanneer gaan sy ophou bulk en begin praat?’ ek kon elke keer nie my lag hou as hulle vir my vra wanneer sy gaan begin praat nie, ek sal haar baie graag sal wil sien praat.

24 September 2008

‘n Hanskalfie

Ons het in Desember ‘n kalfie (sy naam was Hercules) huis toe gebring, ons moes aan die begin 3 keer op ‘n dag melk aanmaak en vir hom gaan gee. Later het ons net 2 keer op ‘n dag vir hom melk gegee, toe is hy na die trop beeste toe. Hy was so mens mak, dat hy vir die ander beeste geskrik het en na die mense toe gehardloop het. Hercules is nou al deel van die trop beeste en skrik nie meer vir die ander beeste nie. Maar as ons vir hom gaan kuier loop hy al agter ons aan!

Een keer het ons kuiermense (my vriendin en my boetie se vriend het ook by ons gekuier), en ek gaan kry Hercules se melk en roep ons vriende en die kuiermense se seun om saam te gaan. Die wat Hercules wou melk gee, het ‘n beurt gekry en die wat nie wou nie het net gekyk. Toe ons klaar Hercules melk gegee het, het my jongste boetie ‘n stuk rubber in die kalfie se ‘hek-kraal’ ingegooi, ek klim toe op die hek, want ek is bang die draad (die hekke is ’oorgetrek’ met ogiesdraad) hak my nuwe hemp. Toe ek afspring gaan ek agtertoe in plaas van vorentoe, toe klap ek jongste in die gesig en toe val ek op my boud. Toe lag almal en jongste kan nie meer een traan stort nie want lag is wat hy nou net moet (want ousus het op haar ‘jack’ geëindig), toe kan ek ook nie help om te lag nie (ek meen, dit moet skreeusnaaks lyk as ‘n 13-jarige op ‘n hek klim en op haar ‘jack’ eindig. Terwyl die toeskouers twee van 13, twee van 11, een van 6, een van 5 en jongste van 3 is (en almal lag).).

Ek klim toe maar weer op die hek en sorg dat ek in die hek ‘kraal’ spring. Ek tel toe die rubber op en toe ek opstaan stoot Hercules my, net om te sê: KLIM NOU DADELIK UIT, DIS MY KRAAL!!! Toe ek ander kant die hek ‘kraal’ weer te lande kom is ek ook dik van die lag. Ons almal het gelag tot by die huis en as ek nou terug dink, kry ek maar net ‘n ‘massive smile.’