15 April 2009

“Ma van twee”

Ons het nou definitief vir Pienkie, want haar ma se melk het opgedroog. Ek voel trots op wat ek reggekry het. “Ma van twee” en ek is lief vir altwee (Cindy en Pienkie). Dis maar soos troeteldiere, ek is nie lief vir honde nie en het nog nie rêrig my eie troeteldier gehad nie, omdat ek nie veel daarvan hou nie. Alhoewel ek guppies gehad het, maar dis mos ‘n vis!

03 April 2009

Pienkie

Ons lig die koei met die ‘high-up’ maar sy kan nog nie staan nie, en my boeties het die kalfie ‘n naam gegee, dit is Pienkie. Wel ek het nou-nou gestap om vir Pienkie melk te gee (ons het haar by haar ma in die kraal gesit), toe ek Pienkie wil vang om haar melk te gee, hol sy weg en gaan staan onder haar ma se kwaai horings! Ek bel toe my pa om te hoor of hy werkers gelos het om my te help, sy antwoord is toe “nee, ek sal jou nou kom help” Wel toe hy hier is toe wil ek weer vir Pienkie vang en sy hol weg! Toe is hy kwaad en sê bly net hier by Pienkie ek is oor so ‘n uur terug!!! Ek besluit toe ek lê op die trekker (ek is so moeg, want my oom-hulle is op vakansie en ek moet na hulle honde, visse en huis kyk, en dan is Cindy ook net my ‘baby‘), Na ‘n ruk toe kom Pienkie nader en die koei loop op haar voorbene se knieë (dit pla my nie), toe gaan ek na Pienkie toe en vang haar. Pienkie gaan toe aan die bulk, toe spring die koei op (wat glad nie goed is vir haar bene/heupe nie) en val weer, ek los toe vir Pienkie en gaan sit vir ‘n rukkie op die treker om te kalmeer. Toe die koei op haar sy lê, lyk sy ‘magteloos’ toe sien ek kans om naby haar te staan en Pienkie melk te gee. Die Pienkie se melk is in en ek ly aan skok…