10 January 2010

Wille wragtig!

Hoekom is die jongste die wille wragtig? Wel, André (die jongste!) het die 28-e Desember sy kop oopgeval. Die seuns het by die trekkers gespeel en André het van die een trekker se neusgewigte afgespring, Henry (die oudste) het toe vir hom gesê hy moet ophou hy gaan seerkry! Tipies die jongste, hulle het altyd die minste ore en André luister net as dit hom pas...

Die derde keer toe hy afspring toe stamp hy sy kop teen die hamermeul se haakpen. Hy staan toe op en vryf sy kop waar hy hom gestamp het (klaar weer oppad om op te klim en af te spring) toe hy sy bebloede hand sien toe skree hy soos ’n maer-vark!

Ek het net mooi klaar met my ma oor die twee-rigting-radio gepraat toe Henry en die ander twee (Johan en my nefie) aangehardloop kom met André. Ek gryp toe weer die radio en skree: “Ma! André! Bloed! Baie! Oog! Hardloop! Vinnig!”

Ek het nooit gedink my ma kan so vinnig hardloop as ek praat nie! Maar wel sy was so vinnig soos die wind hier! My pa was op Henry hulle se hakke!

My pa en Henry en die huishulp het toe André se oog bietjie gespoel, ek het watte gegryp op sy oog gesit en vir hom gesê hou vas! My ma en my tannie jaag toe met hom deur dokter toe, op die vinnigste is jy in tussen 10 en 15 minute in die dorp. Maar dan moet die grondpad nie lyk soos hy lyk nie.

André het 5 steke gekry. Toe ek hom vra wat was die seerste, toe knyp hy sy oë toe en sê die inspuiting! Dit was seerder as die val! Maar toe ek hom ’n paar dae later vrae toe sê hy die val.

En na dese weet ek dis erg om 'n oulike foto van 'n kleintjie te neem!

André het ’n spul merke in sy gesig. Bv. Soos alle kleintjies maar maak om op te staan, hou hul aan iets vas en trek hulself op, André kon dit goed doen, hy het tot die deurkosyn gebruik, maar by die kombuis se deure het hy twee keer goed geval. Die eenkeer het hy teen die binnedeur opgestaan, gegly op die novilon en geval (op sy voorkop aan die regterkant). ’n Paar weke later gebeur dieselfde by die buitedeur, hy het opgestaan en bietjie geswaai op sy ronde-voetjies. Meteens is sy een voet in die lug en toe hy hom wil neersit toe trap hy van die trappie af en val sy kop oop teen die kosyn (aan die regterkant). Hy het ’n ou skaaphond gevryf (André is baie lief vir honde!!!) en die hond se vel is nie lekker nie, hy vat toe aan haar sy en toe hap sy na hom en toe kry hy ’n merk onder sy regteroog. Hy’t een keer op ’n drom geklim en hy wou soos ons groottes loop, toe is al plek waar hy kan opklim die draad (ons het ’n 1.5m hoë draad gespan om die honde uitmekaar te hou), toe hy op is en net wou begin loop toe val hy op die draad en die draad sny hom toe langs sy lip en naby sy slaap (dit aan die regterkant). Hy’t ’n waterpokkie merk hoog op sy voorkop. En nou aan die linkerkant. Dis nou als in sy gesig. Hy’t eenkeer sy vinger met ’n tuna-blikkie oopgesny, die het snaaks geheg maar wat nie dood maak nie maak groot, al is dit op die rowwe manier!

No comments:

Post a Comment