07 January 2010

Beeste trek

Ons het vandag die wilde trop beeste (hulle is nie rêrig wild soos wilde diere nie, maar hulle is menssku. En begin maklik hol!) getrek van die kalkplaas na die sandplaas, dis sowat 10km! Ons het met die voet getrek, alhoewel ons al een keer ’n koei moes skiet oor ’n bierbottel haar maermerrie sening afgesny het (bierbottels wat mense langs die pad by die venster uitgooi, is goed vir NIKS. Mens gooi nie iets by ’n venster uit nie! Beeste eet die plastiek en hul derms verstop. Selfs ’n blikkie sal hul sluk en die ding steek iewers vas of sny dalk als oop op pad maag toe!).

Ek het spesiaal vandag my kamera saam gevat en nie een enkele foto geneem nie! Gister het ek en my tannie met die ou bakkie (ons noem hom die ossewa, sy briek moet jy vyf keer pomp en dan stop hy nog nie dood nie! Hy draai met moeite ens.) gewag en gewag in die pad op die hoek van die plaas, maar tevergeefs, die een simpel koei het oor die draad gespring en hulle was al agter haar aan. Sy het elke keer ontsnap en verder die bos ingegaan, toe jaag hulle ’n paar koeie saam met haar in die kamp in.

Die volgende dag het ons by die huis gewag dat my oom bel dat ons kan gaan. Hulle het toe die koei saam met die ander paar koeie by die trop ingejaag, nogal maklik ook. Toe my oom bel is ons direk soontoe. Ons (ek, André en my tannie) het weer by die hoek gewag, seker so ’n uur en ’n half. Toe die beeste kom toe knip my oom die draad. Die een werker prop die rooivlae in my hand en sê ek moet dit uitdeel, so kom dit toe dat my tannie en André met die bakkie begin ry (hulle moes voor ry, my oom aan die kant en my pa agter). Ek word toe beveel dat ek teen die buurman1 (ek dink ek doop hulle maar so want dit gaan baie raak) se draad moet staan sodat die beeste in die grondpad kan inloop (sonder om my te sien!). Ek loop toe saam met ’n stuk of vier werkers agter die trop aan, wat die hele pad vol loop.

Die stukkie grondpad is kort en stil, so ons kan vir die stukkie die hele pad gebruik, twee werkers loop in elk van die buurmanne (buurman1 en buurman2) se plase om te sien as daar ’n bees uitbreek. By die T-aansluiting gekom (die grondpad loop in die teerpad dood), gaan die beeste mooi van die pad af en loop aan die kant van buurman1, met drie werkers op sy grond, wat moet kyk dat daar nie ’n bees deurbreek nie. Ons loop toe aan en net voor ons by die weermaggronde se T-aansluiting kom, toe kom buurman3 se beeste aan gehardloop en bulk en gaan mal, dit was hel om die beeste aan buurman1 se kant te hou, hulle het ’n grooooot behoefte om by buurman3 se beeste te kuier! Ons is toe veilig verby (met een of twee koeie wat oor die pad gehardloop het). Toe ons verby is, is daar ’n bruggie (by buurman1 se indraai, seker so 400m van buurman3 se beeste af) waaroor ons moet beweeg, toe slip daar TWEE kalwers in buurman1 se plaas in. Ons loop toe so 100m aan tot waar buurman1 se draad oorgaan in wildsdraad. Daar draai ons toe briek aan en hou die beeste teen buurman1 se draad, terwyl twee werkers, my pa en my oom agter die twee kalfies aan is.

Dit was nie lank nie of daar jaag ’n taxi verby, dit is toe net genoeg om die beeste op hol te sit! Om die kersie op die koek te sit begin buurman3 se beeste bulk! Ek dog ek gaan dood van kwaadheid! Die drie agterstaanders het begin weghol vir die beeste wat ewe skielik om gedraai het en toe het hulle uit die beeste se pad gekom en... Die beeste hol en hol en hol....... Sommer die hele pad vol! En seker 800m of meer meters terug! My oom en pa stop toe die beeste. En die beeste is die pad vol! Dit vat toe ’n ewigheid om hulle weg te skeur van buurman3 se beeste en om almal uit die pad te kry voor iemand hulle dood jaag, (reisigers (veral GP’s, ek sê nie julle sleg nie maar...) het GEEN respek vir rooivlae, noodligte (daai lig wat lyk of hy in die rondte draai), hazards of mense wat met helderkleurige klere aan, in die middel van die pad op en afspring nie!!)!

Ons het toe net mooi almal by mekaar en begin aanstap, so 600m verder begin buurman3 se beeste bulk en daar draf ’n paar beeste oor die pad. Toe ons eindelik amper almal aan die kant van die pad het, toe kom daar ’n bloed-bloed-bloed-rooi Golf aan gejaag. Daar is toe twee beeste wat nog die plek vol loop ek het toe amper my vlag blou gewaai, my arm was lam, almal het gewaai die bakkie se hazards was aan en die noodligte (een op elke bakkie), maar die simpel ding hou aan jaag! My pa gryp toe ’n vlag en spring in die pad, ek hou aan waai, maar my oë is bot toe en my ore is gesluit! Toe ek remme hoor vlieg my oë oop, net betyds om my pa uit die pad te sien spring en die drywer te sien stop, hy het gruwelooslik gelyk!!! Hy wou toe weet of my pa simpel is en vir wat hy moet stadig ry (ewe arrogant), toe my pa klaar vir hom in sy beste engels (wat nie baie goed is nie) gesê het dat hy asseblief moet stadig ry as hy rooivlae ens. sien, want dit beteken gevaar! En as hy deur jaag maak dit laat die beeste wil hardloop en dit kan sy dood kos. My pa het net klaar met hom gepraat of hy spring daar weg soos ’n koeël uit ’n geweer, met die middel vinger in die lug! Die een koei wat aan die ander kant is besluit toe om weer terug te hol trop toe. Toe sy omswaai en ek sien sy mik terug, kry ek amper ’n hartaanval!

Nou’s daar slegte en goeie nuus, wat gelyk gebeur het. Die slegte nuus is: die trop swaai toe om en hol terug (weer sowat 700m!) en die goeie nuus is die koei was net stadig genoeg om die Golf se agterent te mis! So gebeur dit toe laat ons terug stap! Maar nou stap ons. Die ergste is daar is toe niemand om die beeste voor te keer, my pa en oom ruk toe hulle Cruisers om en jaag voor die beeste in!

So stop hulle toe die beeste. Ons kry toe weer almal aan die kant van die pad en stap weer dieselfde pad aan! Voor ons verby die T is toe kom daar ’n bakkie aangejaag en agter hom kom ’n lorrietjie met ’n waentjie aangery, agter hom is ’n taxi! Toe die bakkie deur gejaag het toe is die helfte van die trop weer die hele pad vol en ons loop al weer terug! Toe die lorrie tussen die beeste is toe lyk dit of hy gaan stilstaan so stadig ry hy... Ek en die een werker probeer toe vir die taxi verduidelik, hy moet net bietjie wag, dan jaag ons net gou die beeste na buurman1 se kant toe en dan kan hy verby ry. Volgens hom hoef hy nie! So kom dit toe dat hy ry! En al die beeste begin hardloop, hardloop in die sin van HARDLOOP! Ek het gevoel of ek in trane gaan uitbars! My voete was al seer geloop en gehardloop my keel voel soos ’n rasper van al die geskree en bevele gee en ek kan nie net loop en gaan water haal nie. Die lorrie is toe net mooi waar die beeste begin, toe besluit die taxi hy vat die lorrie in die middel van die trop verby! Shucks! Hy het net die lorrie verby gevat toe kliek hy, hy is in die middel van ’n trop beeste!

Hy gaan staan toe botstil! En maak sy venster toe. Een van die koeie dink toe hierdie ding moet sy net proe! Sy is by die bestuurder se venster en steek toe daai lang tong van haar uit en lek oor die spieël en venster. Julle moes die drywer se gesig sien!!! Hy ruk weg van daai venster af en gaan sit in die middel-voor, daar sak hy toe al hoe platter en platter! Toe die trop eindelik verby die taxi is toe gaan sit hy weer op sy plek en ry vrek stadig deur die trop toe almal aan buurman1 se kant is.

My pa en oom se bakkies staan toe nog weerskante van die pad, daar waar ons die beeste die laaste keer voorgekeer het. Toe keer my pa en oom, hulle voor, my pa en oom in die pad en die bakkies aan die kante. En die een werker kom toe uit die bos met die een kalfie. Ons laai toe die kalfie op die “ossewa” en begin weer terug stap.

Uiteindelik kan ons net aan hou stap en ek vra toe vir Henry (ouboet), moet my en sy plek volstaan en onthou om nie net vir homself nie maar vir almal te kyk, laat die beeste nie uitbreek nie. So kon ek toe koek sny by die draai en water by my tannie heel voor in die “ossewa” kry. Toe ek terug op my pos is en ek die bottel vir Henry gooi toe spring daar ’n paar verse oor na die ander kant van die pad. Die een werker (wat die kalfie gekry het) hol toe en jaag hulle weer terug trop toe! Hys toe uit asem en Henry gee toe weer vir my, my bottel en ek sit hom in my sak. Daai werker kom staan toe weer op sy plek tussen my en Henry en die ander klomp drink toe water en voor die bottel by hom is toes die water klaar. Ek gee toe maar vir hom my water wat net twee slukke is en vuurwarm daarby.

So loop ons toe aan en aan verby buurman1 en buurman4 se grens, toe nog ’n entjie aan toe gaan ons oor die pad en loop langs buurman5 se draad op.

Seker so 300m van die sandplaas se afdraai af toe laai my oom my en drie werkers op en hy sê vir my tannie sy moet ook vooruitry, by die indraai gekom kry elkeen sy pos en gaan staan op sy plek. Toe ry my oom voor die beeste uit, hulle volg hom en begin afdraai. Al die beeste is toe in die kort stukkie pad na die sandplaas en toe staan hulle en wag dat ons die hek moet oopsluit. My oom stuur toe 5 werkers om die in die bos te staan, dat ons die beeste teen die draad kan hou laat hulle nie in die bos kan ingaan nie, want ons het nog nie daai kamp deursoek vir melkbos (dis gif) nie. En hy sluit die hek oop.

Die hek gaan oop en die beeste begin beweeg al vinniger en vinniger die een wat ek my water voor gegee het sê toe dat hy dink daar’s fout in die bos want die beeste loop nou bietjie te vinnig. Net daar toe sak al my moet in my skoene. My voete voel of hulle al af geloop is en nou moet ek weer die hele bos vol loop agter ’n spul beeste aan?!

Toe ons by die hek kom toe sien ons dat al die beeste die bos in is! Gelukkig is daar nog ’n hek wat krip toe ly, (ons vat altyd die beeste tot by die krip en dan kyk ons of al die koeie se kalwers daar is ens.). toe besluit ons druk al die beeste teen die draad (buurman5) vas en dan net uit by daai kamp. So stap ons toe. In my hele lewe het ek nog nooit so magteloos gevoel nie! Kyk ek weet daai bos het baie spinnekoppe maar op ’n manier kan jy hulle tog sidestep! Nie vandag nie! EN ook nie daai soort nie! As ek dink nou loop ek een mis loop ek in ses ander vas en dan stol daar ’n gilletjie in my keel! Want gil ek nou, is die beeste net weer die hele bos vol! So vat ek toe my vlag ek vee al die spinnerakke weg, toe klouter daar een van my vlag al op na my hand toe gil ek en gooi die vlag neer. Henry tel hom toe op en toes ons eindelik in die pad en by die hek!

Nou net die laaste 200m tot by die krip! Ek loop toe aan en net naby my tannie toe spring die beeste oor die draad en breek die draad! Ek dog toe dis nou die einde wat ek sien want nog ’n tree verder en eks dood! Ons besluit toe ons jaag al die beeste aan die regterkant oor die draad, ons sal nou die skade regmaak. Toe almal oor is toe moes ons die kalfie wat aan die regterkant deur die draad is terug jaag na die ras van die trop. Ons sukkel toe ’n rukkie en toe’s hy by die ander. Die mans het die draad reggemaak. Ek en my tannie is reguit na die kemosie dam toe ek het my voete in die dam en ek het water gedrink laat dit bars (’n hele liter! Maar daai water is sleg en dit les nie my dors nie! Dit maak net my maag vol). My pa bring toe die ossewa en ry krip toe. Daar laai ek hy en twee werkers al die kalwers af en toe kom my oom en al die ander by die dam aan toe gaan almal eers water drink en gesig was. Daarna gaan lê hulle op die gras en trek hulle skoene uit, so lê elkeen toe vir so vyftien minute. Toe maak ons reg en ry huis toe. My oom laai toe die een werker op wat na die kalfie gesoek het op. Hy het toe ongelukkig niks gekry nie... My pa sê hulle sal môre verder gaan soek. Hou duim vas vir goeie nuus!

No comments:

Post a Comment