30 April 2011

Morning Glory

Vanoggend is staan ek stil by die heerlikheid van dagbreek, 'n nuwe dag. Ek kyk na die 'glory' uit verskillende hoeke uit. En vang ook 'n paar hoeke vas!  Kyk na die fynheid van alles en besef weereens hoe groot God is en hoe fyntjies hy ook geskep het! Die skepping is 'n wow!!
glory noun 1 fame and honour. 2 praise. 3 beauty; magnificence.
Glory to God in the highest, and on earth peace, good will toward men.
~ Luke 2:14 (KJV)
Glory ye in his holy name: let the heart of them rejoice that seek the LORD.
~ Psalm 105:3 (KJV)
Sien vandag die klein goedjies raak! Knip jou oog vir 'n klein goggatjie en spring op en af as jy goeie nuus kry, vra wat die rede is as jy dalk slegte nuus kry, bo alles hardloop iemand wat jy lief het onderste bo net vir 'n drukkie, en gee 'n geskenkie (al is dit net 'n grashalmpie!) aan iemand wat dit die minste verwag!

28 March 2011

Uithou vermoë van 'n bulterriër!

Ek voel sommer sleg as ek na my blog kyk! Ek skeep hom regtig af!! Geluking leef ek nog want ek is aan die gang, permanent! En dis so LEKKER!! Ons "trek" al beeste vir die afgelope week! Dit klink nou onmoontlik, maar dit is rerig so!
Woensdag het ons begin en ons het vandag uit eindelik al die beeste geskuif! Woensdag toe maak ons die trop by mekaar en net toe ons dink dis almal, toe hoor ons daar is twee kalwers deur die draad en ons hoor groot beeste agter ons bulk. Ons los toe die massa en gaan haal die res. Soos 'n bees maar is loop hul weer weg! Die hele oggend spook ons met die beeste en die middag word die twee kalwers gesoek, waarvan daar toe niks gekry is nie.
Donderdag is die kalwers weer tussen ons. En ons maak die beeste nog 'n keer bymekaar. Ons maak die draad los en jaag die wat agter gebly het weer nader. Toe "begin" die trek, eers kolk die beeste so saam dat ons hul nie in die pad kry nie en toe is die beeste in die pad en soos altyd is dit weer choas!
Die volgende oomblik spring die hele trop om en hol die buurman se draad in mekaar! Skaars 'n uur daarna bel my oom en sê, hiers 'n koei in 'n strink en willer as die wildtuin self, ons paartjies gaan haar nie kan vang en los maak nie. Daar gekom maak hul haar los en toe al die manne haar los en sy haar nodige asem weer terug het, storm sy op my oom af en is so half-half oor hom.
Daar kry hul toe nog 'n nek-strik! Nie lank daarna nie is ons weg van my oom af en toe bel weer, die selfde storie. Dis toe dat ek saam loop. Maar julle dit lyk of die duiwel in hul ingevaar het, sy hol rond, pluk omtrent haar kop af met die kabel-strik om die nek. Roggel en die tong hang langs die bek uit. Dis iets verskrikliks. Toe die manne haar los vat sy die pad en ek het guts om nader te staan toe dit die volgende koei (sowat 15m verder) se beurt is. Weer vang ons die koei en knip die kabel los, dan hol sy bok-spring en gooi haar nek laat myne sommer seer word. Ons het so tien strikke los geknip, hoeveel daar nog in daai bos is wil ek eerder nie weet nie!
Toe ons eindelik die beeste sommer oor die grensdraad, weer by ons plaas in het, en die draad reg gemaak word, roep die een van die werkers my pa en oom. Ek wil toe saam loop, toe sê my pa nee bly hier. Die volgende oomblik roep my pa my "kom neem dit af!" Ek gaan toe daarnatoe en neem die gesig af! Dis aaklig!!
Die werker vertel toe: "toe die beeste omswaai en by die bos hol het ek iets gesien wat hop hier by die draad. Toe ek kom kyk ek, ek sien die wolf. Hyt gelewe, maar hy was mal!" Wel, toe ons daar kom was die bruinhiëna al dood en dis duidelkik dat hy al lank daar was! Hyt 'n sirkel van so 5m plat geploeg soos hy probeer loskom het! En drie boompies van so 5cm dik afgevreet, hy het aan klippe gebyt, want dit was vol bloed en tand merke, die gras was plat en die draad het gegaap.
Die strik was bedoel vir klein wild (vlakvarke of klein bokkies). Nog iets dis die hiëna se tweede strik! En so ook sy einde gewees! Die middag probeer ons toe weer die beeste in die pad kry maar dis nag, hul bly agter!

Vrydag het ons weer probeer, net vir oulaas! Maar tussen die beeste wat agterbly en die wat nie wil uit by die draad nie werk dit net nie! So bou ons toe krale Vrydag middag en Saterdag! En ek kyk hoe bored ek kan raak!!

Maandag maak ons toe vir oulaas die laaste paar goedjies reg en trek met die trok! Tussendeur gooi ons "poor on" op die beeste.
Dinsdag, is ons vroeg op om die die laastes en die wildstes, die skoppers en die fighters te laai!
Dis rof en onbeskof, die laaste vyf-tien beeste het ons moeg gehardloop, en hul word nie moeg nie, maar hul storm en gaan mal!
Hulle spring oor die hekke, breek hekke, hol mense om en skop hulle (so ook vir ouboet), so ook het hul probeer om oor die 1.8m hoë kraal hek te spring!
Dit was soos 'n nagmerrie in die dag!
Die laaste koei is net so wild, sy haar horings is ook gesny toe ons haar uiteindelik in die drukgang (een keer in 'n leeftyd) en ons het haar oor 'n V gegee. Sy klim eerste slagpale toe saam met haar wilde vers maatjie (volgende parragraaf), wat lankal al 'n V in die oor het!
Die heel laaste vers, let wel VERS het ons gedaan gehad, haar neus het gebloei en sy het oor als gespring, die laaste keer wat sy gespring het was oor 'n 1.5m hek en toe struikel sy en almal pak haar soos 'n sprul wildehonde, gryp die kop en pote, toe sleep ons haar drukgang toe, sy het gesorg dat elkeen iewers seerkry! Dankie tog hulle is almal nou getrek!

13 March 2011

En wie sou kon dink....?

Ek het 'n kwaai Pa en ek is baie lief vir hom, al kan hy my kwaad maak soos my boeties. Wel, terwyl ek in sy huis is sal ek met 'n romp of 'n rok kerk toe gaan. Op die oomblik is my kerk klere besig om te klein te raak, (so tussen die groeiery en die gimnastiek resultate deur) en ek en my Ma moes gaan klere soek! Dis altyd die grootste nagmerrie wat my kan oorkom "kerkklere soek". Klere koop is maklik en kan nog lekker uitdraai, maar met kerkklere is dit net een massiewe stryd oor waarvan ek hou en wat my pas, en dan wat my Pa sal toelaat! So loop ons in die winkel rond en daar is niks waarvan ek hou nie! Op die ou end gryp ek 'n PIENK rok! Wat 'n skok! Ek't besluit ek gaan my Pa skok! Haha en was hy nie geskok en verbaas nie! Maar nou moet ek die rok elke keer dra! Dis omtrent 'n bakleiery van ek hom aan het tot ek hom weer uit het. 
New Zealand (2001)
Dit laat my dink aan kleintyd, toe ek met my rooi rok al in die rondte geswaai het en "kom dans met die rooi rok" gesing het!!
Nou is dit die teendeel, en ek moes net wys ek sal, maak nie saak wat nie, bly boom klim en trampoline spring...


03 March 2011

THE POTATO STORY

Once, a junior School teacher asked her students to bring some potatoes in a plastic bag to school. Each potato will be given a name of the person whom that child hates. Like this, the number of potatoes will be equal to the number of persons they hate.

On a decided day, the children brought their potatoes well addressed. Some had two, some had three and some had even five potatoes. The teacher said they have to carry these potatoes with them everywhere they go for a week. As the days passed the children started to complain about the spoiled smell that started coming from these potatoes. Also some students who had many potatoes complained that it was very heavy to carry them all around. The children got rid of this assignment after a week, when it got over.

The teacher asked, "How did you feel in this one week?" The children discussed their problems about the smell and weight. Then the teacher said, "This situation is very similar to what you carry in your heart when you don't like some people. This hatred makes your heart unhealthy and you carry that hatred in your heart everywhere you go. If you can't bear the smell of spoiled potatoes for a week, imagine the impact on your heart of this hatred that you carry throughout your life..."

MORAL:
Our heart is a beautiful garden that needs a regular cleaning of unwanted weeds.
Forgive those who have not behaved with you as expected and forget the bad things.
This also makes room available for storing good things.
HAVE A LOVELY POTATO-FREE WEEK!!

Ek het gerip!! Whoopie!!

 Dit was 'n BAIE lekker gimnastiek dag! Ons oefen ons afgaan van die bar af. Ek moet cast en dan my voete tussen my twee hande inbring. Om dit te leer het ek op die highbar geswaai. En 'n heerlike, pynlike verrassingtjie gekry!! Ek het so amper weer op die highbar geklim en verder geswaai en geleer om my bene in te bring!
Ek het gerip!! Na ek my pleister en apie-bloed gekry het, het ek terug gegaan highbar toe. Wel, ek het skaars een swaai gegee, toe roep my coach my beam toe!
Kyk net hoe lyk my hand nou, na drie dae.

05 February 2011

Waatlemoene

'n Oom het op die sandplaas waatlemoene geplant. Dit was vir my vreeslik interesant hoe dit gedoen word en ek het dit gevolg en soveel moontlik foto's geneem van hoe die waatlemoene geplant en grootword.
Hulle het bietjie ontbos, want waatlemoene moet of op BAIE ou lande geplant word of daar waar nog nooit geplant was nie. Hulle het 'n deel van die bos en 'n deel ou land gebruik!
Die land is geploeg met 'n skottel ploeg (iets wat ek nie ken nie).
Daarna het hul gaatjies gemaak met 'n impliment. Dis so cool!!
Die impliment van naby...
Hulle het die waatlemoene met die hand geplant, klomp klein plantjies.
Die plante het groot geword, en begin blom. So het die waatlemoene begin vorm en die oom het water gegooi met 'n waterkar, die kon al amper die pad sonder 'n trekker vind van die dam af tot by die land. Die waatlemoene het geswel tot hul gepluk moes word.
Die oom het so ongeveer vier plukkers, sodra die plukker gekies het die waatlemoen moet gepluk word, sny hy hom los en dit die waatlemoen op sy stingel kant. As die waatlemoen op sy groei kant gesit word, verhoog dit die kans op vrot en sleg word. Onthou, die waatlemoen groei en word langer aan daai kant, met anderwoorde dis sy sagtekant en is nog nie sterk soos die stingel kant nie.
Daarna tel die werkspan die waatlemoene op en paas dit aan tot waar dit die wa bereik, dan word dit gelaai en weggery.
Jy kry dit in die winkel en al moeite wat vir jou daar ingaan is om dit te koop en dalk kar toe te dra, jy dra geen koste vir die spuit teen siektes, die water aanry dag na dag, die plant van hoevele plantjies in honderde of duisende gaatjies, die aanry mark toe ens.
Die ergste is daar word gesteel, baie op 'n slag! So daar moet sekuriteit ook wees, wat self ook maar steel.

Ons kom nou die dag op die plaas om vir ons werkers op te tel, en na ons opgetel het ry ons aan en teen die grensdraad op, wat wag toe op ons? Twee bakkie vragte se waatlemoene wat mense kom steel het om te verkoop! Wel, as jy wil hê maak jou mond oop en vra, maar as jy steel van die grond af, sal ons dit vat en jy kry niks daaruit nie, want jy kan nie vra nie! 'n Paar dae daarna gaan maak ons weer daar 'n draai, toe vang ons die skelems in die land, besig om waatlemoene bymekaar te maak, en langs die grensdraad lê daar toe drie bakkie vragte waatlemoene! Op een vrag kom sowat 70 waatlemoene... Net om jou 'n idee te gee.
Wel wat kan nou lekkerder wees as 'n koue waatlemoen op 'n warm dag net na gimnastiek? Ek dink niks!!


17 January 2011

Die Desember vakansie!

Ek het die vakansie voluit geboer! En dit baie geniet! Behalwe dat party mense my heeltyd aangekyk asof ek 'n paar biljoen dollar (ek praat nie nou van Zim-dollars nie) werd is!
Ek het gedis van middel November af tot so middel Desember. Nog in November, hier na die einde se kant toe het ons so 'n reënbui gehad, en kolle op die plaas was dit klam! Met die gevolg die dis pak vir 'n vale! En ek moet op alby kante van die land en party keer in die land stop om die dis skoon te maak. Dit doen jy met 'n stuk yster of as jy moeg is slaan jy daai skottels met die hamer! Die dag was ek moedeloos! Moeg vir die klein stukkie yster, moeg vir die seerkry as hy gly (en my vingers vermink), moeg vir die spul bossies en klei, en ek gryp daai hamer, as hy lewend was het hy geskree "hooo nou!" Ek slaan toe die dis dat ek voel hoe die blase begin vorm op my hand. Maar slaan slaan ek en dan is dit nog bedompig so ek is ekstra geireteerd! Na sowat drie draaie (of ses lengtes) slaan ek nog met alle mag en krag, toe vlieg die hamer se kop en val reg voor my voete, toe klap ek die skottel met die stuk hout! Dis nie lank nie of ek het die hamer weer in een stuk. Na nog 'n paar draaie besluit die kop om weer te vlieg. Toe bel ek my pa en sê "ek het nou genoeg gesukkel, ek soek nou 'n ordentlike hamer wat nie sal kopverloor nie." Die volgende dag het ek weer die selfde hamer net met 'n bietjie natter steel!
Dan was daar nog sulke klein kroonkiewiete, ek het 'n paarkeer die briek plat getrap, dan is ek in 'n hoë rat en die vet vol oop! Dit voel party keer of jy gaan vlerke kry! Ek het een aand tot na 21h00 gewerk, en daar was klein kiewiete in die land, ek het later gestop en agter hulle aangehardloop en daar gaan sit waar klaar gewerk is (want my boetie het agter my gewerk met die ripper). Ek het soos hul ma geluister om hul te hoor dat ek hulle kan optel en kan wegvat. Party keer moes ek my kop op die grond sit of rond kruip soos 'n kleintie. Die ergste was die jakkals wat nie ver van daar was nie! Want hyt geroep en geroep! Die kiewietjies se ma het my 'n paar keer gevloek tot ek hul kleintjie neersit, dan is als weer reg.
Toe het ek na 'n dag (met baie uithou vermoë) eindelik geploeg. So tussen die werkery deur was daar dae wat te nat was wat ek kon doen wat ek wil! En dan was daar dae wat dit gereën het, dan maak ek die eendraai klaar en dan wag ek langs die land tot dit opgehou het. Later as dit droog genoeg is (dat die turf nie aan die wiele klou nie) dan begin ek weer werk. Ek het eendag perongeluk die draad gehak met die dis. Maar gelukig het ek 'n goeie kondaai gehad, en was dit net eenkeer nodig om aan my twee base te verduidelik wat gebeur het.
Ek het ook die vakansie sojaboontjies geplant. Voor die tyd het my pa en oom my half bang gepraat (ek het rerig aangejaag wat die dis aanbetref, want ek hoef nie reguit en op die kontoere te bly nie), want ek kan nie reguit ry nie en ek sal nie kan draai nie, sommer 'n klomp goed! Toe die dag aanbreek dat ek gaan plant is ek opgestress! Met die inklim in die trekker, trek al wat spier is stywer as die styfste kitaarsnaar! Die volgende oomblik sê my pa net "plant!" ek skep daar asem, sit die trekker in rat en sak die planter, los die clutch, so dat almal omtrent vlieg en gee vet! Hoe vinniger ek ry hoe erger kyk ek die merker se streep aan en hoe meer klou ek aan die vet en stuurwiel! Aanderkant uit, toe is die ergste agter die blat en ek is so op met myself, laat ek skoon vergeet dat en nog moet terug ry om my draai te voltooi! So plant ek toe 'n paar lande se sojas!
Wel, as 'n man (moet ek sê vroumens?) wil plant moet hy sy eie saad kan gaan haal. Die trekker los en die bakkie vat en saad by die huis gaan haal! Dit kan nogal 'n grap afgee! As ek in die bakkie klim, is my eerste gedagte 'hoekom het die ou wat laaste gery het nie die stuurwiel opgetel nie?'. So skakel ek die cruiser aan. Dan kom dit by vorentoe ry! Die trekker waarmee ek ry is 'n 110 Case, en sy vorentoe sit (as jy nou die stuurwiel vierkantig sou maak) in die linkerkantste hoek, ek het al lank gesoek na vorentoe ry, en dan is my voet op die clutch, en as ek los gebeur daar niks! Woeps vlieg daar weer bietjie insig my brein in en sit ek die cruiser in rat! Of dit nie genoeg is nie, soek ek nog na die vet, hier langs my, aan my regterkant! Vinnig, vinnig dan snap ek maar die vet is onder sussie! Nou weer volgende rat, die trekker sin sit op die vet-hefboom en jy gaan na die volgende rat met 'n knoppie! Nou soek ek weer na die ratte hier regs, reg langs my! Hahaha, so leer jy maar weer blits vinnig jy sit in 'n bakkie en nie in die trekker nie!
My pa besig om planter skoon te maak. Na my vingers al soos blase gelyk het.
Na die vakansie het ek omtrent nog een nodig! Ek het eenkeer plat op my maag op die kombuisvloer gaan lê, want dit was vrek warm, toe raak ek daar aan die slaap en ek slaap nie rerig in die dag nie. Wel as jy moeg is, is jy moeg en dan slaap jy maar!
Dit was nou in kort my Desember-vakansie. Dit voel of ek jare laas op my blog geskryf het! Skies daarvoor, ons internet was vir LANK mors dood!
Die is vir my so allerdaags soos die son wat opkom! Ons gebruik twee ysters aan weerskante van die planter om die merkers te lig, sodat die merkers nie aan die hek kan hak nie. Aan die anderkant van die draad, sak ons die planter, sodat die merkers kan oopgaan en dan van die ysters uit.
Ek het 'n duifie ook nog tussen als groot gemaak, gelukig was hy al redelik groot toe ek hom gekry het en het ek net vir 'n week hom met die hand moes kos gee, toe begin hy self eet!