17 January 2011

Die Desember vakansie!

Ek het die vakansie voluit geboer! En dit baie geniet! Behalwe dat party mense my heeltyd aangekyk asof ek 'n paar biljoen dollar (ek praat nie nou van Zim-dollars nie) werd is!
Ek het gedis van middel November af tot so middel Desember. Nog in November, hier na die einde se kant toe het ons so 'n reënbui gehad, en kolle op die plaas was dit klam! Met die gevolg die dis pak vir 'n vale! En ek moet op alby kante van die land en party keer in die land stop om die dis skoon te maak. Dit doen jy met 'n stuk yster of as jy moeg is slaan jy daai skottels met die hamer! Die dag was ek moedeloos! Moeg vir die klein stukkie yster, moeg vir die seerkry as hy gly (en my vingers vermink), moeg vir die spul bossies en klei, en ek gryp daai hamer, as hy lewend was het hy geskree "hooo nou!" Ek slaan toe die dis dat ek voel hoe die blase begin vorm op my hand. Maar slaan slaan ek en dan is dit nog bedompig so ek is ekstra geireteerd! Na sowat drie draaie (of ses lengtes) slaan ek nog met alle mag en krag, toe vlieg die hamer se kop en val reg voor my voete, toe klap ek die skottel met die stuk hout! Dis nie lank nie of ek het die hamer weer in een stuk. Na nog 'n paar draaie besluit die kop om weer te vlieg. Toe bel ek my pa en sê "ek het nou genoeg gesukkel, ek soek nou 'n ordentlike hamer wat nie sal kopverloor nie." Die volgende dag het ek weer die selfde hamer net met 'n bietjie natter steel!
Dan was daar nog sulke klein kroonkiewiete, ek het 'n paarkeer die briek plat getrap, dan is ek in 'n hoë rat en die vet vol oop! Dit voel party keer of jy gaan vlerke kry! Ek het een aand tot na 21h00 gewerk, en daar was klein kiewiete in die land, ek het later gestop en agter hulle aangehardloop en daar gaan sit waar klaar gewerk is (want my boetie het agter my gewerk met die ripper). Ek het soos hul ma geluister om hul te hoor dat ek hulle kan optel en kan wegvat. Party keer moes ek my kop op die grond sit of rond kruip soos 'n kleintie. Die ergste was die jakkals wat nie ver van daar was nie! Want hyt geroep en geroep! Die kiewietjies se ma het my 'n paar keer gevloek tot ek hul kleintjie neersit, dan is als weer reg.
Toe het ek na 'n dag (met baie uithou vermoë) eindelik geploeg. So tussen die werkery deur was daar dae wat te nat was wat ek kon doen wat ek wil! En dan was daar dae wat dit gereën het, dan maak ek die eendraai klaar en dan wag ek langs die land tot dit opgehou het. Later as dit droog genoeg is (dat die turf nie aan die wiele klou nie) dan begin ek weer werk. Ek het eendag perongeluk die draad gehak met die dis. Maar gelukig het ek 'n goeie kondaai gehad, en was dit net eenkeer nodig om aan my twee base te verduidelik wat gebeur het.
Ek het ook die vakansie sojaboontjies geplant. Voor die tyd het my pa en oom my half bang gepraat (ek het rerig aangejaag wat die dis aanbetref, want ek hoef nie reguit en op die kontoere te bly nie), want ek kan nie reguit ry nie en ek sal nie kan draai nie, sommer 'n klomp goed! Toe die dag aanbreek dat ek gaan plant is ek opgestress! Met die inklim in die trekker, trek al wat spier is stywer as die styfste kitaarsnaar! Die volgende oomblik sê my pa net "plant!" ek skep daar asem, sit die trekker in rat en sak die planter, los die clutch, so dat almal omtrent vlieg en gee vet! Hoe vinniger ek ry hoe erger kyk ek die merker se streep aan en hoe meer klou ek aan die vet en stuurwiel! Aanderkant uit, toe is die ergste agter die blat en ek is so op met myself, laat ek skoon vergeet dat en nog moet terug ry om my draai te voltooi! So plant ek toe 'n paar lande se sojas!
Wel, as 'n man (moet ek sê vroumens?) wil plant moet hy sy eie saad kan gaan haal. Die trekker los en die bakkie vat en saad by die huis gaan haal! Dit kan nogal 'n grap afgee! As ek in die bakkie klim, is my eerste gedagte 'hoekom het die ou wat laaste gery het nie die stuurwiel opgetel nie?'. So skakel ek die cruiser aan. Dan kom dit by vorentoe ry! Die trekker waarmee ek ry is 'n 110 Case, en sy vorentoe sit (as jy nou die stuurwiel vierkantig sou maak) in die linkerkantste hoek, ek het al lank gesoek na vorentoe ry, en dan is my voet op die clutch, en as ek los gebeur daar niks! Woeps vlieg daar weer bietjie insig my brein in en sit ek die cruiser in rat! Of dit nie genoeg is nie, soek ek nog na die vet, hier langs my, aan my regterkant! Vinnig, vinnig dan snap ek maar die vet is onder sussie! Nou weer volgende rat, die trekker sin sit op die vet-hefboom en jy gaan na die volgende rat met 'n knoppie! Nou soek ek weer na die ratte hier regs, reg langs my! Hahaha, so leer jy maar weer blits vinnig jy sit in 'n bakkie en nie in die trekker nie!
My pa besig om planter skoon te maak. Na my vingers al soos blase gelyk het.
Na die vakansie het ek omtrent nog een nodig! Ek het eenkeer plat op my maag op die kombuisvloer gaan lê, want dit was vrek warm, toe raak ek daar aan die slaap en ek slaap nie rerig in die dag nie. Wel as jy moeg is, is jy moeg en dan slaap jy maar!
Dit was nou in kort my Desember-vakansie. Dit voel of ek jare laas op my blog geskryf het! Skies daarvoor, ons internet was vir LANK mors dood!
Die is vir my so allerdaags soos die son wat opkom! Ons gebruik twee ysters aan weerskante van die planter om die merkers te lig, sodat die merkers nie aan die hek kan hak nie. Aan die anderkant van die draad, sak ons die planter, sodat die merkers kan oopgaan en dan van die ysters uit.
Ek het 'n duifie ook nog tussen als groot gemaak, gelukig was hy al redelik groot toe ek hom gekry het en het ek net vir 'n week hom met die hand moes kos gee, toe begin hy self eet!

18 October 2010

See vakansie!!

Dis die lekkerste vakansie wat jy vir my kan gee! En dit is by die see!! Dis die grootste bederf onder die son! Ons was af Kaap toe vir sowat twee weke! Ons het getoer van die een plek na die ander! Ek het later gevoel soos 'n seat!! Dat ek nog nie soos een lyk nie is 'n wonder! My rug was later seer gery! En ons het nie eenkeer in die see geswem nie! Net op die strand geloop en bietjie in 'n rivier geswem...

Dag 1: Ons het van die huis af gery na my ma se een vriendin naby Viljoenskroon. Daar het ons een aand oorgeslaap.
Dag 2: Ons het van Viljoenskroon af gery na Middelburg. En by my oupa se skoolmaat oorgeslaap.
Dag 3: Ons ry die oggend van Middelburg af en stop by "Jagtpoort " en koop vrugte-rolle en kyk bietjie rond. Daarna stop ons langs die pad, by 'n blokhuis naby Laingsburg. En toe ons in Laingsburg is, is ons na die vloed museum... Die Diefwering het elk 'n ander tema! Toe verlaat ons die Karoo en gaan oor die Hex-rivier-pas die Kaap binne! Dit was van WOW! Wat 'n gesig!! Toe slaap ons op 'n boer se plaas in die slanghoek destrik. Teen aan die Breërivier!
Dag 4: Na 'n lekker nagrus, is ons op en ry ons na Worcester, waar ons na die instituut vir blindes is, en die tannie vir ons 'n "toertjie" gereël het. Ons het ook gaan kyk hoe die blindes skoolgaan. Volgende was die De la Bat skool, die skool vir dowes. Daar het ons met die hoof gesit en gesels. Toe is ons na Kleinplasie, daar was nie veel nie, ons het maar net na alles gekyk, wens party goed kon werk! Toe het ons vinnig 'n draai by Rosenville gemaak en naby die huisie langs die pad in die rivier geloop. Dag 5: Ons kinders het 'n mal bevlieging gekry om in die rivier te swem! En ons het dit gedoen, bibber en bewend, maar ons het dit gedoen (saam met die paddavissies geswem!). Toe is ons na die Slanghoek-kelder, ons het daar net deurgeloop saam met 'n "lyer", wat ons net kon verduidelik hoe dit werk (want oestyd is mos nie die tyd van die jaar nie). Toe is ons Paarl toe, waar ons by my ouma se neef gaan middag ete eet het. En ek familie ontmoet het! My agter-agter-klein-neefs! Toe is ons na die Kaapse rebelle gedenktuin toe. En daarna na die taal monument toe. Daar sien ek toe Tafelberg vir die eerste keer in my lewe, al was dit deur die wolke (deur die blare sou beter geklink het!). Toe ry ons via Bainskloof terug Slanghoek toe! Ek het gedog die draaie gaan my nog afgooi! Maar dit was mooi! So kom ons ook lekker laat by die huis aan.
Dag 6: Ons het begin oppak. En toe ry ons deur die Hugenote tonnel (hy is nou vir jou LANK!). Toe stop ons in Stellenbosch by my oupa, se pa, se jongste sussie. Sy nooi ons toe om saam met haar in die botaniese tuin te gaan eet. Na heelwat gesels (oor geskiedenis) ry ons verder en stop by die aarbei-plaas! Dit was net 'n moet! Ek is so bly ons het die tyd gegaan, want ons kon aarbeie eet! Toe is ons Kaapstad toe, om 'n plaas te verlaat en na die stad te gaan is hel!! Daar slaap ons toe by my ma se niggie.
Dag 7: My ma-hul kuier 'n hond uit 'n bos, maar eindelik is ons in die pad na..... Kaap-punt! Ons Loop toe na die punt, en so graag soos ek wou, is ons toe nie op na die vuurtoring nie, (want tyd en party mense se asems raak bietjie min). Die plek se plantegroei verskil BAIE van dit wat ek gewoond is! Toe is ons naom te gaan pikkewyne kyk! Toe is ons na Simonstad se museum, en toe ry ons Capman's peak om na Groot Constantia, maar ons was letterlik net 'n minuut te laat, want toes dit vyf uur, maar ons het buite rond geloop en fotos geneem. Toe ry ons na my oupa se jongste boetie en eet aandete daar. Love hulle BAIE! Die aand is ons eers so 12 uur by die huis aangekom, my ma se niggie was die aand weg op 'n kamp.
Dag 8: Eerste by Tafelberg wen!! Ons is Tafelberg toe en op met die kabelkarretjie, die lug was skoon, en dit was warm! Hoewel dit nie eenkeer bo 26 grade was nie! Dit was so dat ek nie eers my baaitjie bo op die berg aangetrek het nie. Toe is ons kasteel toe en akwarium toe, ons was net na vier klaar met dit wat ons wou doen. Ek het niks lekker gevoel nie, en toe ons by die huis kom het ek gaan slaap, later het my ma se niggie huis toe gekom en ek het laat opgestaan net om iets in my maag te kry. Moenie dink hy wil rus nie!! Dag 9: Ons vat die pad, na my ouma se sussie (of my ma se niggie by wie ons geslaap het, se ma), naby Hermanus. Ek het steeds soos 'n zombie gevoel, maar daar verby try kyk. Toe ons daar kom het ons net gesels en in die huis gebly, want dit het gereën. Dit het gevoel of ons die wolke saam met ons trek!!
Dag 10: Ons is uiteindelik af strand toe, om ons voete nat te maak. Net ons kinders is af, en toe maak die een golf ons bietjie nat van onder af en die wolke maak ons nat van bo af. "n Goeie kombinasie om my hare te laat KRUL!!! Toe is ons na 'n vlei toe en toe weer terug huis toe.
Dag 11: Na ontbyt, klouter almal in die kar. Ons het walvisse gekyk en by 'n kers fabriek gestop. Toe is ons Waenhuiskrans toe. Daar loop ek en boetie hand aan hand in die see om in die grot in te gaan, na de vorige dag se skrik, hou André die water met 'n valk oog dop. Toe die golf inkom spring hy op die naaste klip en met die het ek nie genoeg grip nie en val ek my velle af!! Die volgende oomblik toe bars ek uit van die lag! En dit pyn en dit brand maak ek wil my skeur! Toe ons weer uit die krans is het ons gaan broodjies eet en ons kinders het baljaar op die strand!! Weer in die kar, die keer op pad na L'agulhas toe. Daar split ek toe oor die twee oseane, (en skeur die velle nog beter oop). Toe is ons op met die vuurtoring en weer af en huis toe.
Dag 12: Alweer op pad !! Die keer na my oupa se oudste boetie se vrou toe, waar ons later koffie gedrink het, en net voor dit het ons 'n seafood-platter geëet. Toe ry ons aan na die tannie se dogter toe. Waar ons toe die nag oorslaap. En ek weer familie ontmoet!
Dag 13: As ek maar net kon vlieg van punt A na punt B!! Ons het by Robberg gestop en bietjie geklim en klouter! Is dit nie mooi nie!! Toe moet ons baai sê vir die see! Dit noem jy nou my swak punt daai! Toe is ons weer op pad na Middelburg, waar ons by my oupa se skoolmaat se dogter oorgeslaap het! Daai kan jy nou 'n plaas noem! Want dit lyk soos een!
Dag 14: Na 'n lekker ontbyt, klim ons weer in die pad. Ons het by die militêre museum gestop vir die manne. EK het toe al soos geskiedenis gevoel, vol gestop van goed waarvan ek nie hou nie. Ons beplanning was om reguit huis toe te gaan. Maar ongelukkig was daar te veel wind en sulke goed en toe slaap ons by Willem Pretoruis oor.
Dag 15: YAY!!! Nou reguit huis toe! Ons het gou in Pretoria by my maatjie gestop. En toe ons hier kom is my tannie en my neef hier (want die res van die gesin is saam met 'n rugbyspan oorsee!! Van als was die see die grootse moeite werd!!! Love die see!!!