14 March 2009

Beeste trek

Ons het vandag beeste met die voet getrek en dit kan nogal probleme gee as dit die dag wil!!! Ons het bulletjies wat voerkraal (van ander mense) toe moet gaan uit gekeer en dit na die voerkraal gevat (onder die bulletjies is ou Hercules, die eerste hanskalf).Vir middagete kry ons atjar (wat vrek sleg is, ek het dit vandag vir die eerste keer geproe, maar my mond raak nie maklik weer daaraan nie, die brand pla my nie rerig nie maar daai olierigheid…), witbrood en coke, en toe vir “poeding” tjips… (My oom het dit by ‘n plaaswinkel gekoop)Ons het ook ‘n bul (wat die pas kan stadig maak oordat hy kopstamp met die ander 2 bulle) en ‘n koei wat die vorige dag gekalf het uitgekeer. Die bul, die koei en die kalfie het ons toe eerste weggevat met die lorrie.Daar gekom, “skrik” ek vir die gras, dis lank, baie lank, langer as toe ek laas daar was. Ek moet toe in die hek staan sodat my oom en my boetie die drie beeste uit die lorrie kan laai en dat hulle (die beeste) in die kampie kan bly sodat die trop by hulle kan aansluit. Toe my boetie en oom die beeste uit die lorrie het, kom ou Hoed (die bul, die eerste keer toe ek hom gesien het het sy skof vir my gelyk soos ‘n breë band hoed, en van daar af is sy naam Hoed) die GROOT bul reguit na my toe gestap, ek het riling op riling gekry, maar dit tog oorleef toe my oom die lorrie “start” en hek se kant toe gery kom draai Hoed se rigting en hy gaan saam met die koei en kalf om die kampie te verken. My oom is deur die hek van die kampie, nou is dit tyd om die hek toe te maak, ek dog dis ‘n maklike taak en probeer dogter (met women power) alleen, ek kry daai hek nie met ‘n millimeter geskuif nie, want die klitsgras het hom stewig in die grond geanker!!! My oom en my boetie en ek probeer die hek skuif maar steeds niks!!! Dit kos ons ‘n stok te vat en die gras van die hek af te druk, sussie klim toe op die gras om dit platter te maak, heel bewus van die klitsgras, maar met ‘n gladde kakiebroek en leerbootse sal dit mos nie vasklou nie. Ons ruk en pluk toe weer aan die hek, en hy gee skiet, ek het toe knapse-Kêrel in my hemp en my bootse se veters is vol klitse maar nou gaan ons die trop beeste kry en trek!Toe ons by die kraal met die trop beeste kom kry ek ‘n klip en gaan sit op die (sement) dam se wal, ek gaan nou my veters skoonkrap, maak nie saak wat wie vir my sê nie, al moet ek agter hulle aan loop tot by die ander plaas loop! Uiteindelik is my veters is skoon!!!EN DIE TREK BEGIN!!!My pa, oom, boeties, en die werkers keer toe die klein kalfies uit, om hulle op die lorrie te laai, want die kalfies kan nie plus minus 15 km ver loop nie!My pa en my twee kleinboeties is in die lorrie, ek, my ander boetie en my oom ry toe in sy bakkie en die werkers, loop en dan ry hulle weer so maak hulle maar beurte, ons het as een groot man langs die lorrie gery en nou en dan moes ons ander mense se hekke toemaak, maar by ‘n T-aansluiting is daar nie hekke wat jy kan toe maak nie, en toe is een van die vrek stoute verse wat in die T aanhardloop, gelukkig is dit vinnig uit sorteer en nie lank nie toe spring twee koei oor die draad, toe jaag ek en my boetie (deur die gras op ons voete) hulle uit by die naaste hek. En “YES” ons is by die ander plaas en die kalfies moet afgelaai word toe klim ek nes ‘n bobbejaan bo-op die lorrie en hou aan die tralies (wat die beeste keer as hulle wil spring) vas en jaag die kalfies uit. Om daar te kom is makliker as om weer daar af te kom! maar ek is af en toe kan ons huis toe gaan. Maar dit was lekker!!!Een keer toe ons beeste met die voet getrek het, het ‘n BIER bottel ‘n koei se sening mors af gesny, toe moes ons die koei slag!Goed wat kan gebeur (maar wat nog nie met ons gebeur het nie): Die mense wat verbyry jaag party keer en as hy/sy teen ‘n bees vas jaag is dit tiekets met die kar, die bees en dalk die mens ook!!!

13 March 2009

As daar iets met die beeste gedoen word en ek kan dalk hand by sit, is ek daar!

Ons kom terug van die dorp af (het gimnastiek en swem gehad), en ek sien die draad is reggemaak waar ons dit geknip het met ‘n vloed - haai, wat gaan nou aan? By die werkswinkel sien ek die lorrie waarmee ons beeste trek is uit en glad nie in sig nie (jis, is daar iets aan die gang waarvan ek nie weet nie?). Ek vra my ma of ek kan gaan kyk en/of hoor wat is aan die gang, sy sê toe laai eers af en hang die swemgoed op. Toe dit klaar is, is ek ook weg (my hare is nog los en nat van die swem), na ‘n ruk kom die bakkie en die lorrie aangery, toe hoor ek hulle het gedip en verse uitgekeer, nou ry hulle die net aan… Ek kyk toe hoe hulle die verse aflaai, en gaan toe huis toe (dit is al donker gewees).

01 February 2009

Dis ’sad’

Rooiers wou nie gesond word nie. En het vanoggend glad nie krag gehad nie, as jy sy kop optel en jy los sy kop, gaan sy kop dierek grond toe… Toe het my pa en my oom besluit dit sal beter wees vir die kalfie om dood te wees as om te lewe. Want as hy lewe dan kry hy swaar en ons moet sien hoe hy swaar kry, maar as hy dood is sal hy nie swaar kry nie, en ons ook nie (dis nogal swaar om te sien hoe spook ‘n kalfie (sonder ‘n ma) met ‘n siekte).

So ma se seun is dood… ;-( maae ek sal daar oor kom!

23 January 2009

Slange en honde

Net voor twaalf, was daar by my tannie se huis ‘n hewige geblaf van die honde, toe was daar ‘n slang ons vermoed dit is ‘n Bosveldkobra, toe het die slang my tannie se Walliese terrier (hond) gepik. Dit het ‘n hele rukkie gevat om die slang by hom af te vat, want jy kan nie hom of die slang optel nie, want hy knor en wil mens byt (As jy nie my tannie is nie). Uiteindelik toe kry ons die slang gevat(my oom het hom aan sy beld vas gehou). Toe kon ons eers nie sien of die slang hom gepik het nie en toe ons sien hy’s gepik, het my oom eers die veearts probeer bel maar nie antwoord gekry nie. Toe lyk dit vir my of die hond wil vrek en ek roep my oom, toe sê hy ek moet my pa van sy selfoon af bel, hy wil die afgetrede veearts bel. Ek het my pa gebel en gesê: “Pappa, oom Carl sê pappa moet so gou as moontlik kom. Jock is gepik deur ‘n rinkhals of een of ander slang”. Toe hy by die huis is moes ek hol vir spuite en spuitnaalde, en my oom het die spuitstof gaan haal. My pa en my oom het Jock gespuit (maar hy’t nie geknor of tande gewys nie (hy doen dit as hy nie so halfdood is nie) net gelê en asem haal) en nie lank daarna nie is hy dood…

16 January 2009

Die nuwe kalfie Rooies

In die 3de Januarie se oggend het (die outjie wat vakansie werk hier gedoen het) ‘n koei ingespuit want sy’t rooiwater, die middag het my oom gaan kyk of sy nog lewe en die aand het hy so 8uur gaan kyk of sy nog lewe, toe is sy al vrek. My 2 ooms het toe nie kansgesien om in die donker na ‘n kalfie te soek en te vang nie. Die 4de, die Sondag het ons gewag vir die oom van die krokodilplaas hier naby, om die dooie koei te kom oplaai vir sy krokodille. Toe hy uiteindelik so 10 uur hier is het ons saam gery en toe het ons gespook om die opgeblaasde, swaaaaaar koei op die bakkie te laai dat die oom haar net na sy krokodilplaas toe te kan vat. Ons was my 2ooms, my pa my 3 nefies(18, 16 en 7) ek (14) en my 3 boeties (12, 6 en 4) en dan ook nog die oom van die krokodilplaas met een van sy werkers (ek is amper so sterk soos die werker, dalk net bietjie onvas op my voete, waar die werker redelik stewig is). Toe het ek my 3 boeties en my nefie (7) elkeen ‘n krokodiltand gekry (Jis, maar daai tande is sooo stomp, wys jou hoekom ‘n krokodil se kakebeen so sterk is).

Toe moet ons nog die kalfie soek en vang. Dit was darem net so 20 minute teenoor die koei se laai wat amper ‘n uur was. My 1 oom het die kalfie vinnig gevang (dankie tog, want ek het gedink ek gaan nog dood gaan van die hitte). Die kalfie het ‘n paar keer met die huis toe ry op gespring en dan sukkel ek en my nefie (16) om hom weer te laat lê (dan dink ek by my self: as die tralies nie op was nie, dink net hoe sou jy dan gesukkel het dat jy nie af voeter nie. Want as hy opspring dan HOL hy vir die tralies!!!). Daai Rooies (bulletjie, die nuwe kalfie) drink nog nie self die bottel nie, ons sukkel maar elke dag (3keer op ‘n dag) se om net die melk in sy keel af te kry. Ons gebruik ‘n bottel met ‘n kunsspeen om die kalfies melk te gee. Gewoonlik is dit net so 5 keer se sukkel dan suip die kalfie self aan die kunsspeen, maar hierdie bulletjie dink anders.

04 January 2009

2008, ‘n ‘party’ jaar!!!

(Ek het die 23ste Des verjaar). Ek het seker 3 keer 2008 partytjie gehou: 1 keer saam met 3 kinders (2 boeties (13,10) en 'n sussie (10, die tweeling) die oudste boetie het my met Cindy gehelp, toe sy siek was) wat by hulle oupa vir die vakansie gekuier het en die oupa het saam met ‘n ander oom by ons die inrypad oorgegruis. Toe saam met my vriendin en haar 3 sussies en 1 boetie en toe op my verjaarsdag saam met ons dominee en sy gesin, later die dag, die famielie wat op die plaas is en die outjie wat vakansiewerk by ons gedoen het maar die vakansie was die laaste keer want hy gaan aan die einde van die jaar begin werk. Al was elke partytjie net koek en waatlemoen was dit darem iets en lekker.

Kersfees was ons by my oupa-hulle in Newcastle, ons vermoed dis die laaste kersfees daar gewees want hulle beplan om 2010 New Zealand toe te trek, en 2009 se kersfees moet ons op die plaas bly om te sorg dat die beeste water het en my ouma nie alleen hier te bly nie. Toe het ons by my ouma-hulle gebly tot die 3de Jan (op my ma se verjaarsdag, ons sou die 2 de gery het maar toe jaag die iemand nonsens aan op my oupa se plaas).

15 December 2008

My susie kalfie

Ons het ‘n nuwe hanskalfie genaamd Cindy. Ek is mal oor haar, sy was die week van die 8ste Desember siek (haar maag het soos ‘n spuitfontein gespuit) maar nou gaan dit al beter, sy is so oulik en ek is mal oor haar. Hier het 2 seuns gekuier en elke keer as ek vir Cindy hoor bulk dan sal ek iets sê soos ‘Ja mamma se kind!’ of ‘Is jy honger Cindy-kind?’ of/en ’Mamma sal nou vir jou melk gee’ of so, dan terg die 2 seuns en my boeties my dan sê hulle goed soos ‘Kyk, sy lyk wragtag nie soos jy nie!’ of ‘Wanneer gaan sy ophou bulk en begin praat?’ ek kon elke keer nie my lag hou as hulle vir my vra wanneer sy gaan begin praat nie, ek sal haar baie graag sal wil sien praat.