01 February 2009

Dis ’sad’

Rooiers wou nie gesond word nie. En het vanoggend glad nie krag gehad nie, as jy sy kop optel en jy los sy kop, gaan sy kop dierek grond toe… Toe het my pa en my oom besluit dit sal beter wees vir die kalfie om dood te wees as om te lewe. Want as hy lewe dan kry hy swaar en ons moet sien hoe hy swaar kry, maar as hy dood is sal hy nie swaar kry nie, en ons ook nie (dis nogal swaar om te sien hoe spook ‘n kalfie (sonder ‘n ma) met ‘n siekte).

So ma se seun is dood… ;-( maae ek sal daar oor kom!

23 January 2009

Slange en honde

Net voor twaalf, was daar by my tannie se huis ‘n hewige geblaf van die honde, toe was daar ‘n slang ons vermoed dit is ‘n Bosveldkobra, toe het die slang my tannie se Walliese terrier (hond) gepik. Dit het ‘n hele rukkie gevat om die slang by hom af te vat, want jy kan nie hom of die slang optel nie, want hy knor en wil mens byt (As jy nie my tannie is nie). Uiteindelik toe kry ons die slang gevat(my oom het hom aan sy beld vas gehou). Toe kon ons eers nie sien of die slang hom gepik het nie en toe ons sien hy’s gepik, het my oom eers die veearts probeer bel maar nie antwoord gekry nie. Toe lyk dit vir my of die hond wil vrek en ek roep my oom, toe sê hy ek moet my pa van sy selfoon af bel, hy wil die afgetrede veearts bel. Ek het my pa gebel en gesê: “Pappa, oom Carl sê pappa moet so gou as moontlik kom. Jock is gepik deur ‘n rinkhals of een of ander slang”. Toe hy by die huis is moes ek hol vir spuite en spuitnaalde, en my oom het die spuitstof gaan haal. My pa en my oom het Jock gespuit (maar hy’t nie geknor of tande gewys nie (hy doen dit as hy nie so halfdood is nie) net gelê en asem haal) en nie lank daarna nie is hy dood…

16 January 2009

Die nuwe kalfie Rooies

In die 3de Januarie se oggend het (die outjie wat vakansie werk hier gedoen het) ‘n koei ingespuit want sy’t rooiwater, die middag het my oom gaan kyk of sy nog lewe en die aand het hy so 8uur gaan kyk of sy nog lewe, toe is sy al vrek. My 2 ooms het toe nie kansgesien om in die donker na ‘n kalfie te soek en te vang nie. Die 4de, die Sondag het ons gewag vir die oom van die krokodilplaas hier naby, om die dooie koei te kom oplaai vir sy krokodille. Toe hy uiteindelik so 10 uur hier is het ons saam gery en toe het ons gespook om die opgeblaasde, swaaaaaar koei op die bakkie te laai dat die oom haar net na sy krokodilplaas toe te kan vat. Ons was my 2ooms, my pa my 3 nefies(18, 16 en 7) ek (14) en my 3 boeties (12, 6 en 4) en dan ook nog die oom van die krokodilplaas met een van sy werkers (ek is amper so sterk soos die werker, dalk net bietjie onvas op my voete, waar die werker redelik stewig is). Toe het ek my 3 boeties en my nefie (7) elkeen ‘n krokodiltand gekry (Jis, maar daai tande is sooo stomp, wys jou hoekom ‘n krokodil se kakebeen so sterk is).

Toe moet ons nog die kalfie soek en vang. Dit was darem net so 20 minute teenoor die koei se laai wat amper ‘n uur was. My 1 oom het die kalfie vinnig gevang (dankie tog, want ek het gedink ek gaan nog dood gaan van die hitte). Die kalfie het ‘n paar keer met die huis toe ry op gespring en dan sukkel ek en my nefie (16) om hom weer te laat lê (dan dink ek by my self: as die tralies nie op was nie, dink net hoe sou jy dan gesukkel het dat jy nie af voeter nie. Want as hy opspring dan HOL hy vir die tralies!!!). Daai Rooies (bulletjie, die nuwe kalfie) drink nog nie self die bottel nie, ons sukkel maar elke dag (3keer op ‘n dag) se om net die melk in sy keel af te kry. Ons gebruik ‘n bottel met ‘n kunsspeen om die kalfies melk te gee. Gewoonlik is dit net so 5 keer se sukkel dan suip die kalfie self aan die kunsspeen, maar hierdie bulletjie dink anders.

04 January 2009

2008, ‘n ‘party’ jaar!!!

(Ek het die 23ste Des verjaar). Ek het seker 3 keer 2008 partytjie gehou: 1 keer saam met 3 kinders (2 boeties (13,10) en 'n sussie (10, die tweeling) die oudste boetie het my met Cindy gehelp, toe sy siek was) wat by hulle oupa vir die vakansie gekuier het en die oupa het saam met ‘n ander oom by ons die inrypad oorgegruis. Toe saam met my vriendin en haar 3 sussies en 1 boetie en toe op my verjaarsdag saam met ons dominee en sy gesin, later die dag, die famielie wat op die plaas is en die outjie wat vakansiewerk by ons gedoen het maar die vakansie was die laaste keer want hy gaan aan die einde van die jaar begin werk. Al was elke partytjie net koek en waatlemoen was dit darem iets en lekker.

Kersfees was ons by my oupa-hulle in Newcastle, ons vermoed dis die laaste kersfees daar gewees want hulle beplan om 2010 New Zealand toe te trek, en 2009 se kersfees moet ons op die plaas bly om te sorg dat die beeste water het en my ouma nie alleen hier te bly nie. Toe het ons by my ouma-hulle gebly tot die 3de Jan (op my ma se verjaarsdag, ons sou die 2 de gery het maar toe jaag die iemand nonsens aan op my oupa se plaas).

15 December 2008

My susie kalfie

Ons het ‘n nuwe hanskalfie genaamd Cindy. Ek is mal oor haar, sy was die week van die 8ste Desember siek (haar maag het soos ‘n spuitfontein gespuit) maar nou gaan dit al beter, sy is so oulik en ek is mal oor haar. Hier het 2 seuns gekuier en elke keer as ek vir Cindy hoor bulk dan sal ek iets sê soos ‘Ja mamma se kind!’ of ‘Is jy honger Cindy-kind?’ of/en ’Mamma sal nou vir jou melk gee’ of so, dan terg die 2 seuns en my boeties my dan sê hulle goed soos ‘Kyk, sy lyk wragtag nie soos jy nie!’ of ‘Wanneer gaan sy ophou bulk en begin praat?’ ek kon elke keer nie my lag hou as hulle vir my vra wanneer sy gaan begin praat nie, ek sal haar baie graag sal wil sien praat.

18 November 2008

Vloed

Ons het van die 9de tot die 15de Novenber so 217mm reën gehad.Die 14de het daar water in ons pad (wat langs ons huis verby loop) en in my tannie se huis ingeloop, gelukkig is dit nie die hele huis nie, maar dit is nog steeds meubels en matte wat nat word. En as ‘n kamer se deur toe was (en die mat is nat) dan stink die kamer.

Moenie dink die water is skoon en was die huis se matte nie… Die water is vuil (soos sand, gras en dalk ‘n klein paddatjie). Ons was die vloere en mure en watersuig (suig die water uit met die stofsuier) die matte, na so ‘n vloed.

Die lande het lelike gate gespoel en die grondpad (wat verby ons huis loop) het soos ‘n revier gelyk, die water het met ‘n vaart verby ge’hardloop’ dit was so mooi nou die aand toe die son onder gaan.


Dit reën by ons en ek geniet elke druppel!!! Dit is al redelik nat en as dit bietjie droëer is sal ons begin om die lande te bewerk! Yes!! Ek kannie wag tot die plantjies so 2 tot 5 cm bo die grond uitsteek nie dit lyk altyd so goed! My pa-hulle plant gewoonlik in Desember (as dit nat genoeg is).

Desember-vakansie in amper hier, dan verjaar ek, dis kersfees en ek kan by my vriendin gaan kuier in die week. Al wat ’sad’ is, is dat ek nie my gimnastiek kan doen nie, maar nou kom ons weer by daai punt, van jy kan nie jou brood aan altwee-kante gebotter hê nie.

Ek het so twee weke teruk by die gimnastiek my balk-reeks gedoen en toe ek afspring en land soos ek moet (af tot by ‘n hurk posisie, arms reguit voor jou, dan weer op en arms horisontaal langs jou) toe met die hurk posisie, verloor ek my balans en val op my duim (dit was nogal seer) na so ‘n week was my vinger weer heel reg en kon ek hom weer gebruik, my een spiertjie het vinnig moeg geword (want hy het ‘n hele week gerus).

11 November 2008